Een dood in ligte vliegtuigongeluk buite Bloemfontein

Lees ook :

Foto's: VR MED

VRYSTAAT. – Nooddienste is na ’n ligte vliegtuigongeluk buite Bloemfontein in die Ferreira-gebied, waar een persoon met hul aankoms dood aangetref is.

Volgens VR Medical (VR MED) het die voorval ’n viersitplek-vliegtuig behels en pogings is aan die gang om te bevestig hoeveel persone ten tyde van die ongeluk aan boord was. Een persoon is reeds dood verklaar.

VR MED sê Life EMS, brand-en-reddingsdienste, FireOps, Fidelity Fire, Netcare en Trauma Response Africa is saam op die toneel. Verdere besonderhede sal bekend gemaak word sodra meer inligting bevestig is.

Volgens sers. Mahlomola Kareli van die polisie is die 45-jarige manlike vlieënier die enigste persoon wat aan boord was en is op die toneel dood verklaar. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die polisie sal saam met burgerlugvaartondersoekers die oorsaak van die ongeluk vasstel. Die identiteit van die oorledene sal eers bekend gemaak word sodra die familie ingelig is.

Luidens ‘n verklaring van Sisa Majola, burgerlugvaartowerheid-woordvoerder, het die afdeling vir ongeluk- en insidentondersoeke (AIID) ‘n ondersoek van stapel gestuur. Die betrokke vliegtuig is ‘n Piper Pacer PA-22 wat slegs een persoon aan boord gehad het. Dit het vroeër die dag van die Stellenbosch-landingsbaan in die Wes-Kaap vertrek en sou brandstof inneem in Beaufort-Wes, asook by die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein. Die finale bestemming was die Coves-landingsbaan naby Lanseria Internasionale Lughawe in Gauteng.

Majola bevestig die vlieënier het omstreeks 10:32 sy aankomsvoorneme aan die Bloemfontein-lugverkeerbeheertoring deurgegee. Kort daarna het die vliegtuig van die radar verdwyn en alle radiokontak is verloor. ’n Gekoördineerde soek-en-reddingsoperasie het later die wrak sowat 30 kilometer van die Bram Fischer Internasionale Lughawe opgespoor.

Die vliegtuig is tydens impak vernietig. AIID-ondersoekers is tans op die toneel besig om bewysstukke in te samel. ’n Voorlopige verslag sal na verwagting binne 30 dae vanaf die datum van die ongeluk uitgereik word.

Die AIID het ook sy innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledene uitgespreek.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief