OOS-KAAP. – Een passasier is Woensdagaand in ’n ernstige taxi-ongeluk op die R61 naby die Corana-gebied buite Mthatha dood en nog veertien ander persone beseer.
Volgens Garrith Jamieson van ALS-paramedics het die taxi omstreeks 20:30 beheer verloor en verskeie kere gerol, wat veroorsaak het dat van die passasiers uit die voertuig geslinger is. Jamieson beskryf die toneel waarop dié diens se paramedici en EMRS aangekom het as chaoties.
‘n Triage-stelsel is onmiddellik ingestel en bykomende ambulanse is ontbied. ’n Vroulike passasier, na raming in haar twintigs, het kritieke beserings opgedoen. Terwyl paramedici haar probeer stabiliseer het, het sy ‘n hartstilstand gehad. Ten spyte van resussitasiepogings is sy op die toneel dood verklaar. Veertien ander beseerdes is op die toneel behandel en daarna na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Die polisie was op die toneel en het ’n ondersoek ingestel.




