Een minuut met Jak de Priester

Lees ook :

Een minuut met Jak de Priester

Vir Jak de Priester was musiek en die kunste deel van normale groei en ontwikkeling in sy lewe. Dit was vir hom ’n talent waarmee hy gebore is. “Dit is iets binne jou wat jy deur jou skoolloopbaan stadig begin ontgin.” Hy het van jongs af koor gesing en was by sy skool se toneelgroep betrokke. Hy het selfs in sy matriekjaar sy toneelgroep se stuk vir die ATKV-tienertoneelkompetisie geskryf.

Daar was natuurlik ander sangers wat hom veral op universiteit geïnspireer het. “Ek onthou Johannes Kerkorrel het my ongelooflik geïnspireer en Amanda Strydom se manier van optree.”

Vir hom is daar baie onvergeetlike oomblikke wat sover in sy loopbaan uitstaan. “Alles vorm ’n mens, … wie jy is vandag … hoe jy jou liedjies skryf en hoe jy jou konserte doen.” Elke kunstefees, konsert en produksie wat hy aanmekaar sit en deel van is, is vir hom besonders. Sy destydse verskyning by Huisgenoot Skouspel staan beslis ook uit. “Dit was ’n groot geleentheid en elke keer as jy op daai verhoog gaan en jy sien die duisende mense … dit vorm jou.”

In 2005 het hy saam met Nataniël gesing in die Royal Albert Hall. “As ek my oë toemaak, kan ek daai plek sien. Ek kan nog daai oomblik onthou.” Hy wens baie keer hy kon dit nou gedoen het omdat hy tans meer in homself gevestig is.

Hy glo hy is gegrond oor hoe hy grootgeword het. “Mens leer ’n kultuur aan van die tipe mens wat jy is. Ek het ’n hele gesin wat ’n vrou en drie kinders insluit. Ek is ’n gewone mens in hulle lewens. Dit gaan nie oor my lewe as ’n sanger nie, maar eerder oor elkeen van hulle se lewensdrome.” Dit is daardie normaliteit wat hom gegrond hou.

Hy vervul al die normale rolle van pa-wees, wat dit nie moeilik vind om alles te balanseer nie. “As ek vir ’n ruk weg is met optredes en toere, gaan ek so gou as moontlik huis toe.”

Sy nuutste produksie is getiteld Hartkamer. “In ons huis het ek ’n gedeelte vir myself waar ek my liedjies skryf en kreatief kan wees. Dit is ’n spasie wat ek omskep het waar ek soms konsert vir ongeveer twintig mense kan hou.” Die konsert is dus Hartkamer.

Verder is hy besig om ’n nuwe album op te neem. “Ek het dit lank laas gedoen en sien uit om nuwe musiek uit te bring.” Hy is steeds besig met Koppieteefontein vir televisie. Hulle gaan binnekort aan ’n nuwe reeks begin skiet.

Sy raad aan opkomende mense in die uitvoerende kunste-wêreld is om hulself so gou as moontlik te vind. “Moenie te veel rondkyk nie. Word geïnspireer, maar doen jou eie ding. Dit wat jy voel is reg vir jou.” Hy moedig skrywers ook aan om so veel as moontlik liedjies te skryf. Al is dit nie noodwendig goed nie. “Daar is miskien iets magics wat uit die minder goeie goed uit kom en dit is waarvoor mens leef.”

Jak werk dít wat vir hom belangrik is in stories en liedjies in. Hy hou nie daarvan om prekerig voor te kom nie. “My kuns is definitief ’n manier waarop ek sake aanraak sonder om vinger te wys. Konsertgangers beleef dit eerder as om dit in ’n prekerige stem te hoor.”

“Kunstenaars is die mense wat gewoonlik die situasies in ’n land in perspektief plaas.” Hy meen musikante en ander uitvoerende kunstenaars het definitief die vermoë om die wêreld ’n ligter plek te maak.

Hy moedig sy aanhangers aan om die lig vir die wêreld te wees. “Kom ons leef net so positief as moontlik. Geniet elke oomblik en doen iets vir jou medemens.”

Teken in op ons nuusbrief - Bekendes

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief