Die musiekduo, Tolbos, se Caroline en Renier is beslis nie nuut in die musiekbedryf nie. Caroline het al meer as 24 jaar ervaring in die bedryf en Renier 11. Hulle musiek is vol vreugde, dankbaarheid en soms ’n knertsie nostalgie.
Vandat Caroline kan onthou, is sy lief vir musiek. Haar oupa het kleintyd tydens ’n Krugerwildtuinvakansie vir haar ’n Cathy Viljoen-bandjie gekoop. Hulle moes die hele vakansie daarna luister. As hy dit wou uithaal, het sy ’n keel opgesit. Dit is waar alles begin het.
Fredi Nest was vir lank haar mentor en het haar ongelooflik baie van die musiekbedryf geleer. Hy het haar geleer om haar voete op die grond te hou en te onthou waar sy vandaan kom. “Wat ek by hom geleer het, het my die persoon gemaak wie ek vandag is en ek dra dit altyd saam met my.”
Tolbos bly gegrond te midde van hulle werk deur te onthou dat hulle net mense is. “Ons is in die publiek se oog en vir ons gaan dit om ’n verskil te maak, al is dit net in een persoon se lewe.”
Tolbos se album is klaar en beskikbaar. “Ons het twee jaar aan hom gewerk en is trots op die album.” Hulle beplan ’n Kaapse toer vir vanjaar en gaan ook ‘n paar teatervertonings doen in verskeie dorpe.
Hulle raad aan aspirant-musikante is om te weet die musiekbedryf is harde werk. “As jy wil sing om geld te maak, moenie. As jy lief is vir musiek en mense, doen dit. Moenie terugstaan nie, leef jou droom en geniet elke oomblik.
Volgens hulle is musiek in hulle are. “Daar is altyd musiek in ons huis en ons luister graag na Bosveld Stereo. “Om iemand in jou lewe te hê wat saam met jou jou droom uitleef, op die verhoog en in ons huis, is besonders. Musiek is wie ons is, dit is ons kos.”
Hulle raad aan ander is om die lewe te leef wat vir jou geleen is. “Geniet elke sekonde en probeer ’n verskil maak in iemand se lewe.”
Luister hier na hulle musiek en besoek hulle sosiale media bladsye.






