KWAZULU-NATAL. – ‘n Egpaar is na bewering Donderdagaand omstreeks 21:00 tydens ‘n plaasaanval in Melmoth-polisiëringsarea deur vier verdagtes vermom met klapmusse oorval, ontvoer en later in ‘n sloot gegooi.
Kol. Ngobile Gwala het die voorval aan Nuusflits bevestig en sê ‘n saak van ontvoering en huisroof word deur die Melmoth-polisie ondersoek. Gwala sê nadat die egpaar van hul besittings beroof en ontvoer is, is hulle in Babanango-polisiëringsarea afgelaai. Die slagoffers se voertuig is later verlate gevind.
Na bewering het die vier verdagtes deur ‘n badkamervenster by die hoofslaapkamer toegang tot die plaashuis verkry.
Die boer is om 21:00 na buite om ‘n kragopwekker af te skakel. Met sy terugkeer het hy sy vrou hoor skree en die hond het geblaf. Hy het ondersoek ingestel en in die gang het hy hom in ‘n verdagte met ‘n haelgeweer vasgeloop. ‘n Struweling het ontstaan. Twee ander verdagtes, wat die boer se vrou met messe aangehou het, het by die kamer uitgekom. Die boer het vir die veiligheid van sy vrou die geveg gestop.
Daarna is die egpaar glo met draad vasgebind en die verdagtes het geld en vuurwapens geeïs. Vuurwapens in die kluis, ‘n 9 mm-pistool in die kamer, bankkaarte en vier selfone is gebuit. Die boer en sy vrou is volgens berig is hierna in die plaasvoertuig, ‘n Toyota Hilux, dorp toe gery en kontant is getrek nadat ‘n bankkode geeïs is. Daarna is daar op die R68 in die rigting van Nkandla gery, waarna die egpaar volgens ‘n kamera net na 01:00 in ‘n sloot tussen Nkandla en Melmoth gegooi is en die verdagtes op hulle losgebrand het.
Die egpaar het teruggestap na Melmoth waar hulle langs die pad ‘n geleentheid kon kry. Die bestuurder van die voertuig wat hulle opgelaai het, het Mfezi-sekuriteit ontbied waarna alle rolspelers gemobiliseer is. Die boer en sy vrou het mediese behandeling ontvang.
Volgens verspreide inligting het Mfezi-sekuriteit Tracker SA gekontak en die voertuig is verlate teruggevind.
Gwala sê die polisie se ondersoek duur voort.
Bronne: SAPD, Mfezi Sekuriteit, SA Reports, eblockwatch, Boerelegioen
