GAUTENG. – Yetsee Chan (93) het in ‘n hospitaal gesterf nadat hy op 23 September 2020 ernstig beseer in ‘n gang in sy huis in Edenvale aangetref is. Pranavan (32) en Samantha Moodley (34) is elk lewenslank vir sy moord en nog addisionele tronkstraf vir meer aanklagte deur die Johannesburg-hooggeregshof opgelê.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die egpaar is ook onderskeidelik 15 en 12 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis. Sers. Madimetja Maluleke van Ekurhuleni-Noord se triotaakspan was op bystand toe die klaer, die slagoffer se seun, die insident aangemeld het.
Die klaer het omstreeks 10:30 die oggend vir Chan tuis gelos, die hek oopgelaat en is bank toe. Met sy terugkeer om 11:45 het hy sy pa erg beseer en vasgebind in die gang aangetref. ‘n Familiedokter en paramedici is ontbied, waarna Chan na ‘n hospitaal gehaas is, maar kort na aankoms gesterf het. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind Chan het weens erge kop- en servikale ruggraatbeserings gesterf. Gesteelde items waarmee die beskuldigdes aan die misdaad verbind kon word, is by ‘n pandjieswinkel in Benoni gekry.
Mjonondwane sê Maro Papachristoforou, die senior staatsadvokaat in die saak, het omstandigheidsgetuienis met onder andere kringtelevisiebeeldmateriaal in die hof gelewer wat die staat se saak bo redelike twyfel bewys het. Die beeldmateriaal het gewys hoe die beskuldigdes die woonbuurt waar Chan se huis is, binnegegaan en verlaat terwyl die klaer nie tuis was nie.
“Die hof het die getuienis as toelaatbaar geag, wat tot die skuldigbevinding van die beskuldigdes gelei het.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





