NOORD-KAAP. – Pieter-John De Villiers van Wyk (46) en Catharina van Wyk (44) het op aanklagte van bedrog, regsverydeling en geldwassery van R162 000 se stokvelgeld in die Upington-distrikshof verskyn.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê die egpaar het in Desember 2022 ‘n stokvelklub, genaamd Club 2023 begin. Lede moes R1 000 vooruit vir lidmaatskap betaal, waarna hulle vir ‘n jaar moes aanhou betaal. Aan die einde van 2023 sou die geld tussen lede gedeel word. Op 14 Desember 2023, ‘n dag voor die deel moes plaasvind, het die egpaar glo die geld getrek en in ‘n kluis by hulle huis gebêre. ‘n Dag later is hulle na bewering tydens ‘n huisbraak beroof en ‘n buurman is as ‘n vermeende dief geïmpliseer.
Tydens die polisie se ondersoek is ‘n lys van gesteelde items ingedien, maar die lys het nie met dié wat deur die versekeringseis uitbetaal is ooreengestem nie. Die bedrag geld wat die egpaar by die bank onttrek het en wat hulle beweer gesteel is, het ook nie ooreengestem nie. Die klag is vals en versin gevind.
Die egpaar is op 29 November gearresteer en aangekla. Elk is op sekere voorwaardes borg van R2 000 toegestaan.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 28 Januarie 2025 uitgestel.





