WES-KAAP. – Die eienaar van ’n gasteplaas in Wolseley het ‘n ernstige veiligheidsinsident bevestig, nadat verdagtes in die vroeë oggendure van Maandag 31 Augustus die eiendom betree, by verskeie kothuise ingebreek en ’n egpaar wat daar tuisgegaan het, oorval het. “Ons onmiddellike prioriteit is die welstand van die betrokke gaste, die veiligheid van almal op die plaas en om nou saam met die owerhede te werk terwyl die ondersoek voortduur.”
Willie Naude, die eienaar van die gasteplaas, sê aan Nuusflits ‘n manlike gas is tydens die voorval beseer en moes hospitaal toe geneem word. Hy is intussen ontslaan, terwyl die vroulike gas nie fisieke beserings opgedoen het nie. Naude het gesê die voorval was nietemin ’n uiters traumatiese ervaring vir die egpaar. Hy sê die voorval is by die polisie aangemeld en dat privaat veiligheid- en plaaswagspanne op die aanval gereageer het. Bykomende veiligheidsmaatreëls en verhoogde patrollies is sedertdien ingestel.
Volgens kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, het die 66-jarige vrou en haar 75-jarige man in die kothuis geslaap toe hulle deur ’n harde geluid wakker geword het. Vier onbekende mans met balaklawas het die deur se slot gebreek, hulle met ’n handdoek vasgebind en die man aangerand. Die man het verskeie kop- en bolyfbeserings opgedoen en is vir behandeling na ’n nabygeleë mediese fasiliteit geneem. Die verdagtes het daarna te voet gevlug. Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof. Enigiemand met relevante inligting kan speur.sers. CD Abrahams by 079 894 0195 bel.