‘Ek het drie seisoene van my gesinslewe misgeloop’

Lees ook :

Deur LiG-redaksie

Iewers in Mei 2021 het ek begin hoes, en daar was geen medisyne wat my aanhoudende hoesery kon stopsit nie. Toe my man Burrie my daardie Sondag na die hospitaal se ongevalle-afdeling toe neem, het die mediese personeel gesê hulle hoef nie eens te toets nie; ek het definitief Covid-19 opgedoen.

Burrie en ons seuns het in die kar gewag, maar ek kon hulle nie gaan groet nie.

LEES OOK: Vrou rig houtkruis op ná mislukte selfdood: ‘Jy hoef nie ook die doringkroon te dra nie’

Die verpleegsters het so ’n blou masker oor my gesig geplaas, maar steeds het dit gevoel asof ek nie asem kry nie. Weens die verswakte asemhaling is ek later in ’n geïnduseerde koma geplaas. Nog later moes ek geopereer word sodat ’n tragea in my lugweg geplaas kon word.

Ek het nie uit die koma ontwaak nie.

Burrie het gereeld langs my bed kom sit. Ná elke besoek, só vertel hy my later, het hy eers sy hart uitgehuil voordat hy weer ons seuns van 11 en 13 jaar in die oë kon kyk en maak asof alles piekfyn en onder beheer is.

Die siekste Covid-19-pasiënt in Witbank

Vyf weke ná die tragea-operasie was ek steeds in ’n koma. Die dokters het vir Burrie gesê om die kinders op die ergste voor te berei. 

Toe my ma my kom groet, het ek glo my oë oopgemaak. Sy is kort hierna oorlede, ook weens Covid-19. Ek het dit veel later eers uitgevind. Die dokters het later gesê ek was die siekste Covid-19-pasiënt in Witbank se Kosmos-hospitaal wat dié ellende oorleef het.

Toe ek ná etlike weke uiteindelik my oë oopmaak, kon ek nie my arms of bene roer nie. Ek was deurmekaar, ek kon geen woord uitkry nie. Ek kon nie self eet nie. Daar was ’n vuisgrootte bedseer op my stuitjie.

Toe my voete begin skeeftrek, het die dokters gewonder of ek ooit weer sou kon loop. Ek kon nie my voete een sentimeter van die bed af lig nie.

Ek is tydelik huis toe gestuur om Kersfees saam met my gesin deur te bring. Dit was Desember 2021. Ek was in ’n rolstoel en Burrie moes die huis se binnedeure afhaal. Die trappe was ’n groot uitdaging. Ek het in dié tyd baie respek ontwikkel vir mense wat in ’n rolstoel oor die weg moet kom. 

‘And I would walk five hundred miles …’

Ek het Burrie beloof ek sál weer loop, as dit die Here se wil is. By die rehabilitasiesentrum het ek elke dag intieme stiltetyd met God beleef. Daarna was dit vier tot ses strawwe oefensessies. Saans was ek uitgeput, maar elke oggend het die Here my nuwe krag gegee vir nog ’n dag se oefening.

Ek wóú weer loop. Intussen het ek gereeld na The Proclaimers se liedjie geluister, “I’m Gonna Be (500) miles” en veral die refrein het vir my baie betekenis gehad: “And I would walk five hundred miles …”

Uiteindelik kon ek weer my hande gebruik. Ek kon self eet.

Drie weke later kon ek weer loop. Nie goed nie, maar ek kon loop. Prys die Heer! Hy was en is steeds so goed vir my.

Omdat geeneen van die plaaslike chirurge op die bedseer kon opereer nie, moes ek daarvoor Pretoria toe gaan. Vyf operasies was nodig voordat die bedseer behoorlik geheg het.

Toe ek uiteindelik tuiskom, ná agt maande, was Burrie werkloos nadat hy by sy werk aangerand is. Ek was nog aan ’t herstel. Maar ons moes verhuis en het in ’n piepklein huisie in Witbank beland.

My skoonouers in Tzaneen het aangebied dat ons by hulle kan kom woon terwyl ek aansterk en Burrie werk soek. Ek was daarvan oortuig dat my rehabilitasie-pad voltooi is, maar ek het gou besef dit het toe eintlik eers begin. Ek moes baie selfdissipline aan die dag lê en hard oefen om beter te kon loop.

Ná vier jaar is die uitdagings steeds groot

Vier jaar ná daardie siekte beleef ek steeds uitdagings wat my gesondheid betref. Aanvanklik, as ons iewers heen gery het, moes ons elke 30 minute stilhou sodat ek ’n rukkie kon regop staan. Die pyn waar die bedseer was, was vir ’n lang tyd bykans ondraaglik.

En ek het geen gevoel bo-op my voete gehad nie, al val iets daarop en al swel die voet. Steeds bring Covid-19-verwante senuweeskade elke nag erge pyn in my voete mee, en ’n lam, dooie gevoel in my onderste ledemate. Ek sal vir die res van my lewe medikasie daarvoor moet gebruik.

Gelukkig kan ek nog my motor bestuur. Ek ry stadig en báie versigtig.

Die ergste uitdaging is die verminderde gehoor in my linkeroor, want dit maak my werk as toerisme- en besigheidstudie-onderwyser ekstra uitdagend. By die huis is die gedeeltelike doofheid ook frustrerend. Oudioloë het reeds drie verskillende apparaatjies in my oor geplaas, maar ek sukkel steeds met my gehoor. Ons het nie geld vir verdere toetse nie.

Sedert ons in Tzaneen woon, moes ek verskeie Covid-19-verwante operasies ondergaan: ’n nek- en later ’n galblaasoperasie, asook ’n operasie om die gewas te verwyder wat verlede jaar in my pankreas ontdek is. Dit was nie kankeragtig nie; eerder TB-verwant. En vermoedelik ook vanweë die Covid-19.

Burrie moes ’n rugoperasie ondergaan.

Ek wonder dikwels: Waarom moes ek hierdie pad stap? Ek het drie seisoene in die hospitaal deurgebring. Ek het bykans ’n jaar van my gesinslewe misgeloop.

Dankbaarder, stadiger, en vol planne

Ek het wel geleer dat elke gebeurtenis van my ’n beter, dankbaarder mens maak. Ek is nou dankbaar vir elke klein dingetjie wat ek voorheen as vanselfsprekend aanvaar het: Ek kan opstaan, ek kan werk toe gaan, ek kan saam met my gesin wees, ek kan self stort en eet en tande borsel. 

Ek is dankbaar vir soveel mense se ondersteuning, veral Curro Bankenveld se personeel wat agt maande lank vir my gesin se aandetes gesorg het.

Voor Covid-19 was ek haastig as ek stap; ek het altyd my seuns aangejaag. Nou sê hulle: “Kom, Mamma, loop vinniger!” Ek kan mos nie meer vinnig stap nie …

Maar ek gebruik die stadiger stap om te kyk wat om my aangaan, en om die natuurskoon te waardeer. Die ou profeet beskryf so mooi hoe ook ek moes moed hou en veg om te oorleef: “Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke en word nie moeg nie. Hulle loop en word nie afgemat nie” (Jes 40:31).

Dit alles is slegs genade.

Vandag kan ek weer lekker praat, en ek kan getuig van hierdie groot wonderwerk. My Covid-19-verhaal het vriende en familie regoor die wêreld weer in die krag van gebed laat glo, en laat glo dat wonderwerke kán plaasvind.

En ek het geleer familie is baie kosbaar, dat jy nie moet wrokke koester nie.

Hierdie pad het my verhouding met die Here versterk en my ’n beter, positiewe mens gemaak. Uiteindelik besef ek waaroor die lewe éintlik gaan.

Op 47 wil ek graag my eie onderneming begin. Ek was nog altyd skrikkerig daarvoor, maar nou is my hart reg om as sakekonsultant en motiveringspreker te werk. Ek glo vas in Spreuke 3:5 se woorde: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”

Ek het ’n tweede kans op lewe gekry. Die Here het beslis ’n plan met my.

En saam met Hom is enigiets moontlik.


LiG is meer as net ’n tydskrif

God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf – jóú ondersteuning help ons om dit te deel. Hoe meer ondersteuning ons kry, hoe groter kan ons getuienisvoetspoor en impak wees. As jou inspirasievennoot bied ons Christelike inhoud en getuienisse vir elke tree van jou geloofreis. 

Jou donasie help ons om meer getuienisse te vertel en dit meer toeganklik te maak. Sodoende kan ons lig bring daar waar donkerte en moedeloosheid is.

Word deel van die getuienis – hier kan jy LiG vandag ondersteun.


Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief