‘Ek is nie kaal nie, ek is ‘n vrou wat borskanker oorwin het’

Lees ook :

Foto: Bronwyn Katzke

Waarskuwing. Foto mag sommige lesers ontstel.

MPUMALANGA. – Bernice Fourie (44) van Emalahleni (Witbank) het besluit om haar kankerreis en oorwinning ter bewusmaking van mans- en vroueborskanker met Nuusflits-lesers te deel.

“Moenie my foto as kaal sien nie, sien dit as ‘n vrou wat die wedloop gehardloop het en saam met God dit gemaak het, dis nie kaal nie, dis trots, want vandag is ek nader aan my mense en God.”

Foto: Verskaf

Bernice is gedurende 2018 met Her2 positief estrogeen negatiewe borskanker gediagnoseer.

“Ek het ‘n klein knoppie gehad, waarmee ek vir 10 jaar rondgeloop het. Ek het deur die jare dokters besoek en my kommer gedeel, maar ek is van bakboord na stuurboord en moes deurentyd hoor dit is ‘n melkklier wat in my bors sit. Dit was eintlik kanker wat in my bors gegroei het.”

Gedurende 2018 het Bernice besluit om ‘n chirurg te gaan spreek. Hy het aan die knop gevoel wat al bo haar vel begin uitstaan het en dadelik vir haar gesê sy gaan die volgende dag teater toe, sodat ‘n biopsie gedoen kan word.

“Ek was baie, baie bang, dit was asof die lewe die mat onder my voete uitgeruk het.”

Die volgende oggend was Bernice by Kosmos-hospitaal en moes eers by die X-straal-afdeling wees om voor te berei sodat die dokter met die prosedure bygestaan kon word. Bernice verduidelik dit is soos ‘n apparaat (draadjie) wat geplaas word om as gids tydens die biopsie te dien. Die chirurg het egter besluit om die prosedure sommer net daar in die X-straal-afdeling af te handel.

“Hy het die sonar op my bors gesit en was besig met die prosedure vir die biopsie toe hy vir my sê ek gaan nie teater toe nie, omdat ‘hierdie ding’ hom pla. Hy het die dokter in die teater gebel en gesê ek gaan nie teater toe kom nie, hy wil eers sien wat die uitslag van die biopsie is, omdat dit vir hom kwaadaardig lyk.”

“Nou is ek in hierdie klein kamertjie, stoksielalleen saam met die dokter en my seun se meisie by my voete. My man kon nie ingaan nie, omdat die kamertjie te klein is. Ek het my kop na die kant toe gedraai en gesê Here wees my net genadig en ek het my oë uitgehuil.”

Bernice vertel dit is asof alles daardie dag net vir haar donker geraak het.

“Ek kan nie die gevoel vir julle vertel hoe wat ek gehoor het my hart en lewe beïnvloed het nie. Dit het gevoel of my hart uit my borskas geruk is.”

Na die biopsie het Bernice aangetrek en sy sê toe sy in die gang afstap en haar man haar raaksien, hy net geweet het.

“Hy het gesien hoe die trane oor my wange rol en het net geweet daar is fout. Ek het vir hom gesê ek het volgens vermoede borskanker.”

Na ‘n week was die knop se uitslae bekend en Bernice is met stadium 2 borskanker gediagnoseer.

“Ek het met 12 rondtes chemoterapie-behandeling begin en het 12 rondtes Herceptin, ‘n hormoonblokker, gekry om te drink.”

Gedurende Oktober 2019 is Bernice se regterbors tydens ‘n gedeeltelike mastektomie verwyder.

“Dit was vir my die hardste slag wat my ooit in die lewe getref het. Ek het almal gevra om uit die teater te gaan, omdat ek alleentyd met die Here nodig gehad het. Ek het gedink nou is dit verby. Ek het die Here in gebed gevra om by my te wees. Omdat ek my bors verloor, was ek bang wat mense van my sou dink.”

Bernice was onseker oor hoe sy sou voel en wou nie rekonstruksie hê nie. Sy is ook bewus van mense wat probleme daarmee ondervind en het dus daarteen besluit.

“Rekonstruksie maak dit ook vir ‘n dokter moeiliker om kanker wat terugkeer met behulp van ‘n sonar of mammogram agter ‘n prostese raak te sien.”

Na die mastektomie het Bernice die volgende oggend opgestaan terwyl haar suster by haar was. Haar sussie het haar badkamer toe gevat om haar te help bad.

“In die badkamer het my suster vir my gesê om in die spieël te kyk, maar ek wou nie. Ek kon glad nie daar kyk nie. Sy het aangedring en gesê dit lyk regtig nie lelik nie, dit is die mooiste sny. Ek het naderhand na onder en in die spieël gekyk. Ek was beïndruk met die sny. Ek was nie geskok nie, want ek het net daar die Here gevind.”

Bernice sê sy is dankbaar vir haar man, seun en suster wat haar anker en rots deur daardie tyd was. Drie dae later is sy ontslaan en is huis toe.

“Ek moes my lewe by die huis aanhou leef en deur die trauma werk. Dit was baie moeilik en dit het my emosioneel dreineer. Maar met raad en bystand het ek die moeilike tyd deurstaan en ‘n sterkter mens geraak. Gedurende 2023 is my linkerbors verwyder, want ek het met die een bors van balans af gevoel.”

En watse raad het Bernice aan vroue?

Sy sê elke vrou moet haar borste en armholte ondersoek. Sy glo vroeë opsporing red lewens. Indien jy dus ‘n geswelde klier of knoppie voel, moet jy luister na wat jou hart vir jou sê. Moet dit nie los nie, gaan dadelik vir ‘n mammogram. Sy waarsku hoe langer daar gewag word, hoe verder vorder die stadiums en is die kans dat die kanker in jou kliere kan versprei teenwoordig.

“Die kanker kan reeds van stadium 1 af in kliere versprei. Ek het vir 10 jaar met ‘n ‘melkklier’ geloop terwyl ek in my onderbewussyn geweet het daar is iets fout. Die bors het altyd warm gevoel en daar het vloeistof by die tepel uitgeloop. Die bors was hard en seer. Ek het gehoor daar word gesê borskanker is nie seer nie, maar ek dink elke vrou ervaar dit op haar eie manier omdat borste nie dieselfde is nie. Maar my bors was baie seer. Daar kom ek na die dokters oor 10 jaar vir die eerste keer by ‘n chirurg uit en hy tel dadelik die probleem op. Die kanker het darem nie in my kliere versprei nie en daarom het ek nie radiasie gekry nie.”

Bernice is baie ernstig as sy met die mans daarbuite praat.

“Ek wil graag vir elke man sê die realiteit is dat mans ook borskanker kan kry. Moenie skaam of hardkoppig wees nie. Doen ondersoek en indien jy iets ongewoons voel, gaan dokter toe.

“Ek het ‘n vriend wat spesiaal en baie na aan my hart is. Hy is gedurende 2015 met borskanker gediagnoseer en moes ‘n volle mastektomie ondergaan. Hy was eers in remissie en gesond en ‘n paar jaar later was die borskanker terug. Hierdie keer het dit na die res van sy liggaam versprei en hy is tans terminaal.”

Bernice vertel hoe swaar dit vir haar is omdat hy so ‘n goeie mens is.

“Maar daar lê hy vandag en wag dat die Here hom moet kom haal. Hy het my tydens my reis met borskanker raad gegee, moed ingepraat en gelei. Sy liefde is onbeskryflik. Ek wil vra dat elkeen ook vir hom en sy gesin sal bid.”

Bernice sê vandag kyk sy die lewe vol in die oë en het die borskanker agter haar gesit. Sy is gesond en staan ander kankerpasiënte by. Om die liefdesdaad te verrig, lê haar baie na aan die hart.

“Dit help om te weet die persoon wat jou bystaan en jou reis deel, loop ook dieselfde pad, of het dit geloop en julle verstaan mekaar. Mens moet net jou kop optel, weet jy is bevoorreg en met volle oorgawe lewe. Ek hoop my storie maak vandag vir elkeen wat hier lees ‘n deur oop om na hulle borste om te sien. Luister as man en vrou na julle harte, julle het niks om te verloor nie.”

“Eerder vroeër as later.”

Bernice het Woendag haar ses jaar remissie gevier.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief