GAUTENG. – ’n Elektrisiën in diens van die munisipaliteit, wat Dinsdagmiddag in Equestria, oos van Pretoria, instandhoudingswerk gedoen het, is ernstig beseer toe hy aan ‘n elektriese stroom blootgestel is.
Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU) sê dié diens is kort voor 14:00 oor die voorval gebel. Die werknemer is met kritieke beserings aan sy gesig, borskas en arms aangetref. As gevolg van die erns van die beserings is daar besluit om hom per helikopter na ’n spesialisbrandwondsentrum in Johannesburg te vervoer. VEMRU het Netcare911 en Emer-G-Med vir bystand tydens die behandeling van die beseerde bedank.
VEMRU sê voorts verteenwoordigers van die Stad Tshwane se elektrisiteitsdepartement was op die toneel om die oorsaak van die voorval te ondersoek.
Die Stad Tshwane het in ‘n verklaring bevestig dat een van sy elektrisiëns beseer is terwyl hy geskeduleerde instandhoudingswerk gedoen het. Daar is probeer om ‘n fout op die netwerk te herstel toe die voorval plaasvind. Die werknemer, ’n lid van die skakelspan, het beserings opgedoen en het mediese behandeling ontvang. Die volle omvang van sy beserings word steeds bepaal.
“In ooreenstemming met veiligheidsprotokolle is die span tydelik van die werf onttrek.’n Inspeksie ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (OHS) is aan die gang om die presiese oorsaak en aard van die voorval vas te stel,” lui die verklaring van die departement van kommunikasie, bemarking en gebeure van die Stad Tshwane. “
Daar is voorts gesê die voorval mag ’n invloed op die beraamde herstyd in die gebied hê. Meer inligting sal Woensdagoggend, ná voltooiing van die veiligheidsondersoek, gegee word. Die Stad doen ’n beroep op die publiek vir geduld en begrip gedurende hierdie tydperk, aangesien personeelveiligheid en dienslewering eerste prioriteit bly.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





