WES-KAAP. – Emaan Solomons (7) het op 25 Februarie 2020 in kruisvuur gesterf. Die hooggeregshof het Eben Basson en Chivargo Fredericks, beide van die Junky Funky Kids-bende (JFK), skuldig bevind.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê op die betrokke dag het Emaan en haar vriende, soos die gewoonte was, naby haar huis, in ‘n doodloopstraat, Librastraat, bal gespeel. Volwassenes het daar naby in ‘n voertuig gesit toe skote afgevuur is. Emaan, haar maats en die volwassenes het in verskillende rigtings vir veiligheid gehardloop. Die jong meisie het in haar erf se voortuin, ‘n paar meter van die voordeur, inmekaargesak. Haar ma het haar met ‘n koeël in die rug, wat deur is na haar bors, aangetref. Sy is na ‘n hospitaal gehaas, maar is met aankoms dood verklaar.
Twee bendelede is positief met die skietery verbind, nadat hulle op Anees Davis, ‘n lid van die Taylor Gang (TG), geskiet het. Die twee bendes is voortdurend in ‘n geveg oor gebied in Oceanview betrokke, wat oor beweerde dwelmhandel gaan. Die twee beskuldigdes is onderskeidelik dieselfde aand en die volgende oggend gearresteer. Davis, wat ook gearresteer is, is vrygelaat omdat hy nie met die misdaad verbind kon word nie. Sers. Meintjies het die misdaad-vuurwapen, nadat ‘n wenk ontvang is, by Alphaweg 65 in Oceanview gekry. Die staat het altesaam nege getuies geroep, wat Davids en Giovanni Alexander insluit, wat volgens seksie 204-getuig het. Hulle is van vervolging vrygestel.
Die staat is van voorneme om die hooggeregshof te vra om ‘n effektiewe lewenslange tronkstraf aan die beskuldigdes op te lê. Die beskuldigdes is skuldig bevind aan moord, vier aanklagte van poging tot moord, asook die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Die beskuldigdes is egter vrygespreek op aanklagte van hulp aan kriminele bende-aktiwiteite en veroorsaak of bydra tot ‘n patroon van kriminele bende-aktiwiteite en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare plek.
Beide die beskuldigdes het vir uitstel gevra om voor-vonnisopleggingverslae te verkry. Die saak is vir vonnisoplegging tot 14 April uitgestel.
Geordin-Hill Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het die familie by die hof ondersteun en sê: Justice for Emaan! Today the High Court found two gangsters guilty of her murder! Nothing will bring her back, but at least justice is done. Now we want the Court to impose the maximum possible sentence for these murderers. We must send the strongest message to those who have no respect for human life.