GAUTENG. – Getuienis van die kinders van die vermoorde Charlene Pretorius in die verhoor van Stephan Pretorius het op 20 Mei (eergister) in die Pretoria-landdroshof die fokus geplaas het op beweerde huishoudelike geweld, asook op die omstandighede wat tot haad dood gelei het. Die staat beweer daar is op 27 Mei 2023 petrol op Charlene by haar huis in Pretoria-Noord gegooi, waarna sy aan die brand gesteek is. Sy het later in ‘n hospitaal aan haar beserings beswyk.
Action Society (AS) het die hofverrigtinge bygewoon en sê die saak wys die ernstige en langtermyn-impak wat geweld in die huis op gesinne het. Charlene se seun het in die hof getuig oor die gebeure wat daardie dag ontvou het, asook oor die vooraf-situasie binne die huis. Jason se vriend, Ian Manuel, het ook getuig en sy weergawe het Jason se getuienis ondersteun oor wat ná die voorval gebeur het.
Volgens inligting wat in die hof gehoor is, is daar ook opgemerk dat die beskuldigde soms in die hof gelag het terwyl getuienis gelewer is. Juanita du Preez van AS sê die getuienis beklemtoon hoe traumaties en kompleks sulke sake is, veral vir familie wat jare ná die voorval weer in detail moet getuig. Sy voeg by dat hierdie tipe sake dikwels gepaard gaan met emosionele druk op getuies, terwyl die hof terselfdertyd met verskillende weergawes en tegniese aspekte moet werk. Sy sê hulle bly die familie ondersteun en monitor die saak om te verseker dat die proses regverdig en deeglik verloop.
Charlene se jongste dogter het agter geslote deure getuig oor die gebeure toe haar ma glo aan die brand gesteek is. Volgens haar weergawe het sy haar pa gesien waar hy haar ma aanrand voordat vlamme haar omhul het. Die tiener het aan die hof vertel dat die gesin vroeër die dag saam uitgegaan het, maar dat spanning ontstaan het toe haar pa glo kwaad geword het. Later, by sy woning, het sy die geskree gehoor en by ’n venster gesien hoe haar ma aangeval word. Sy het verder getuig dat sy probeer ingryp het en hulp gaan soek het. Tydens kruisondervraging het die dogter gesê sy het nooit ’n hegte verhouding met haar pa gehad nie en dat sy hom nie mis nie weens wat met haar ma gebeur het.
Die hof het ook gehoor dat daar probleme was met die aanvanklike polisieverklaring weens taal- en vertolkingskwessies. Volgens Du Preez plaas swak vertolking in howe onnodige druk op getraumatiseerde getuies. Sy sê belangrike besonderhede gaan verlore wanneer getuienis nie akkuraat oorgedra word nie.
Die saak duur voort.



