KWAZULU-NATAL. – ‘n Enkelma (40) van Waterloo het gesterf toe ‘n voertuig vandag omstreeks 11:50 per ongeluk oor haar gery het. Sy het ‘n minderjarige seun en dogter.
Reaction Unit South Africa sê toe beamptes op die toneel kom, het die vrou op die grond gelê en ‘n voertuig het langs haar gestaan. Die vrou is dood verklaar.
Na bewering het die oorledene in die bure se erf gesit. Twee broers het met die voertuig, wat met tafels en stoele gelaai was, gery. ‘n Luidspreker en geldsak het aan die binnekant van die voertuig, van die paneelbord af, na links gegly. Die bestuurder van die voertuig wou dit keer en het in die proses glo beheer oor die voertuig verloor en oor die vrou, wat op ‘n verfemmer gesit het, gery.
Die oorledene se naam word weerhou. Haar kinders was tydens die ongeluk by die skool.





