OOS-LONDEN, OOS-KAAP. – Die formele geregtelike doodsondersoek van die 21 jong slagoffers wat op 26 Junie 2022 in die Enyobeni-taverne in Scenery Park dood is, het in die Oos-Londen-streekshof begin. Die saak is egter tot 11 September uitgestel sodat die inhoud van die dossier aan die hof se regsverteenwoordigers en ander partye verskaf kan word.
Luxulo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê die saak word ook na die Mdantsane-streekshof verskuif waar voldoende ruimte is.
Barry Madolo, die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap, het op 17 April 2023 besluit ‘n geregtelike doodsondersoek moet plaasvind om vas te stel of enigeen deur nalatige optrede of deur opset vir die tragedie aanspreeklik gehou kan word.
Dit is steeds onduidelik wat die insident veroorsaak het en daarom het die staat geweier om te vervolg, maar ‘n formele geregtelike doodsondersoek wat nie beskuldigend is nie, maar wel ondersoekend is, ingestel.
Tyali sê daar word verskeie getuienislewering van deskundiges, ooggetuies en die eienaars van die taverne verwag.
Die saak teen Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, die eienaars van Enyobeni-taverne, wat beskuldig word van die verkoop en verskaf van alkohol aan persone onder die ouderdom van 18 jaar asook die sameswering en toelaat van werknemers en agente om alkohol aan minderjariges te verkoop of te lewer, sal weer op 24 en 25 Oktober in die hof vir die verdediging se saak voorkom. Beide het onskuldig op die aanklagte gepleit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





