OOS-KAAP. – Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu is in die Oos-Londen-streekhof skuldig bevind aan drankverkope of voorsiening van bedwelmende drank aan persone onder die ouderdom van 18 jaar.
Luxolo Tyali, NVG-streekswoordvoerder in die Oos-Kaap, sê die hof het bevind die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys. Die Ndevu-egpaar is dus verantwoordelik vir die verkoop van drank aan minderjarige kinders en word verantwoordelik gehou vir die misdaad, al was hulle nie self op die aand en nag van 25 en 26 Junie 2022 teenwoordig toe 21 jongmense in hul taverne gesterf het nie.
Die Ndevu’s het onskuldig gepleit en het in hul eie verdediging getuig.
Tyali sê nadat die staat sy saak gesluit het, het die verdediging vir ontslag van die saak aansoek gedoen, maar die staat het die aansoek suksesvol teengestaan.
Thango Pangalela, die senior staatsaanklaer, het getuienis aan die hof voorgehou, onder andere van twee minderjariges wat die betrokke nag oorleef het. Nog sewe getuienisse is deur die hof aangehoor.
Tyali sê die hof het saam met Pangalela gestem dat daar geen ouderdomsbeperking met toelating tot Enyobeni was nie. Die eienaars het dus nie volgens die Oos-Kaapse drankwet stappe geneem om oudersomsbeperkingstoegang toe te pas nie.
Getuienis deur die staat het bure van die Ndevu-egpaar, die Oos-Kaapse drankraad en CCTV-opnames van Enyobeni op die betrokke nag, ingesluit.
Tyali sê die saak sal weer op 23 Februarie voorkom wanneer argumente ter verswaring of versagting van ‘n vonnis aangehoor sal word.
Die formele geregtelike doodsondersoek van die 21 oorledenes moet nog in die Ndantsane-streekshof begin.





