KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou het Maandag omstreeks 14:00 ernstige beserings opgedoen toe sy ongeveer 100 meter met haar motor in die Oribi-kloof, sowat 5 km van die N2-afrit, afgeval het.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê die vrou is deur polisielede, wat besig was met patrolliediens, in die pad aangetref. Sy het toe reeds ondanks ernstige beserings uit die kloof geklim.
Volgens haar het die band van die voertuig skielik gebars, wat haar motor van die pad af die kloof in laat swenk het. Die voertuig het so diep in die kloof beland dat dit nie van die pad af gesien kon word nie. Met vermoedelik beenbreuke opgedoen, het sy die venster uitgeskop en met moeite die steil helling tot in die pad uitgeklim.
Paramedici het haar op die toneel gestabiliseer en na ’n hospitaal vervoer.





