MPUMALANGA. – ‘n Agtste verdagte (40), ‘n sekuriteitstoesighouer van Eskom se Tutuka-kragstasie, het op ‘n aanklag van koperkabeldiefstal in die Standerton-landdroshof verskyn.
AO Thandi Tshabalala, woordvoerder vir die Valke, sê die senior werker is Woensdag op ‘n uitgereikte arrestasielasbrief in hegtenis geneem en het Donderdag in die hof voorgekom. Die ander sewe verdagtes in die saak sluit Refilwe Motloung, die kragstasie se hoofinspekteur, haar broer en swaer in.
Tshabalala sê ‘n provinsiale verkeersbeampte was op 30 September 2024 by die Kinross-weegbrug aan diens en het ‘n Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie met koperkabels gestop. Die bakkie is na die weegbrug gestuur, maar die bestuurder het weggery en die verkeersbeampte is agterna. Die bestuurder van die bakkie het egter beheer verloor en die voertuig gerol.
Lede van die Valke is na die toneel ontbied, waar drie insittendes van die bakkie ondervra is. Hulle kon nie ‘n bevredigende antwoord oor die koperkabels verskaf nie en is gearresteer. Daarna het die ondersoek na die drie verdagtes se alibi het tot die inhegtenisneming van nog ‘n verdagte man (40) gelei.
Volgens Tshabalala het ‘n multidissiplinêre span inligting op ‘n plaas opgevolg, waar ‘n Eskom-vragmotor glo ‘n besending koperkabels afgelaai het. Die kabels was gestroop en gebrand en nog meer kabels is ontdek. Die bewysstukke en die bakkie is gekonfiskeer.





