GAUTENG. – Khosi Thomson, ‘n Facebook-gebruiker, is nie ‘n lid van die SAPD nie. Die polisie doen ‘n beroep op die buitelander om op te hou om haarself as ‘n polisiebeampte voor te doen.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Khosi Thomson het verskeie foto’s van haarself op sosiale media geplaas, waarin sy klere dra wat voorgee om SAPD-uniforms te wees. Die SAPD bevestig dat die klere wat op die foto’s verskyn, nie amptelik deur die SAPD uitgereik is nie. Thomson beweer ook dat sy ’n polisiebeampte is wat verbonde is aan die Johannesburg-Sentraal-polisiekantoor. ’n Voorlopige ondersoek het egter bevind dat sy nie ’n lid van die diens is nie en dat sy ’n burgerlike is.
Mathe sê die polisie het kontak met Thomson gemaak en haar gewaarsku om die onwettige optrede te staak. Thomson het daarna haar Facebook-profiel gesluit. Misdaadintelligensie is aktief na Thomson op soek.
“Die SAPD doen hiermee ’n beroep op Khosi Thomson om onmiddellik op te hou om haarself as ’n polisiebeampte voor te doen en om nie meer van die SAPD se kentekens gebruik te maak nie. Die publiek word daaraan herinner dat dit onwettig is om jouself valslik as ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens voor te doen of om enige SAPD-uniform, kenteken of versiersel sonder magtiging te gebruik. Oortredings hiervan kan tot tronkstraf en/of boetes lei.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





