MPUMALANGA. – Freddy George Willies (80) is Sondag omstreeks 08:40 in Schoemansdal vermoor. Drie familielede, tussen 29 en 75 jaar, is Maandag in verband met die moord gearresteer.
Brig. Donald Mdhluli sê volgens voorlopige inligting het die slagoffer se seun sy ouers in sy Mercedes-Benz besoek. Daar is hy deur twee gewapende mans met klapmusse oorval en met ‘n kabel vasgebind. Daarna is hulle die huis in waar die bejaarde vader aangetref is. Die verdagtes het hom op kort afstand geskiet voordat hulle in die seun se voertuig van die toneel gevlug het.
’n Saak van moord is geopen en die ondersoekspan het onverpoos gewerk om bewyse in te samel en die verdagtes op te spoor. Die drie familielede wat van moord aangekla word, het spoedig gevolg. Mdhluli sê verdere arrestasies word nie uitgesluit nie, soos wat die ondersoek voortduur.
Die verdagtes sal vandag op aanklagte in die Nkomazi-landdroshof in Tonga verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





