VSA. – Die FBI het die ondersoek oor prins Andrew se verhouding met Jeffrey Epstein beëindig en het besluit om nie enige aanklagtes teen hom of ander persone verbind aan Epstein te bring nie.
Lees ook: FBI-memorandum beweer Epstein-lys bestaan nie
Die FBI en departement van justisie het gister ’n memorandum vrygestel waarin gesê is Epstein het geen kliëntelys gehad wat hy kon gebruik om mense af te pers nie. Volgens die memorandum is daar ook geen bewyse gevind wat “sal lei tot ’n ondersoek teen derde partye nie”.
Die departement van justisie het ook gesê om “ongegronde gerugte oor Epstein te versprei, doen niks vir die gereg of die slagoffers nie”.
Beeldmateriaal van Epstein se sel, wat voorheen as vernietig aangemeld is, is vrygestel om te bewys dat hy selfdood gepleeg het en nie vermoor is nie.
Prins Andrew is voorheen deur wyle Virginia Giuffre, Epstein-slagoffer, daarvan beskuldig dat hy haar seksueel aangerand het toe sy 17 jaar oud was. Hy het die aanklagtes ontken, maar het ’n skikking met haar in 2022 bereik. Giuffre is vroeër vanjaar aan selfdood oorlede in haar woning in Perth, Australië.
Bronne: The Daily Express, Daily Mail, Daily Record
Lees ook: Epstein-videomateriaal vrygestel, maar ’n vermiste minuut wek twyfel





