WES-KAAP. – ’n Fietsryer is Maandag ernstig beseer in ’n ongeluk op Chapman’s Peak. Die slagoffer is as Brent Hubert geïdentifiseer.
Neil Robinson, uitvoerende direkteur van Pedal Power, sê fietsryers wat saam met Hubert was, beweer ’n motorfietsryer het vanaf die Noordhoek-rigting gery en ’n beige Toyota Land Cruiser op ’n sperstreep verbygesteek. Dit het tot ’n tromp-op botsing gelei waarin Hubert beseer is.
Sosialemediagebruikers beweer die groep motorfietsryers het tussen 80 km en 100 km in ’n 40 km per uur sone gery. Die motorfietsryer is nog nie geïdentifiseer nie.
Owerhede vra die bestuurder van die betrokke beige Toyota Land Cruiser om as getuie na vore te kom.
Volgens Robinson is Hubert in ’n stabiele toestand in ’n hospitaal. Hy is onder verdowing en aan ’n ventilator gekoppel.
Bronne: Prime Media Plus, The Atlantic Seabord Community Forum

