F1 en sy beheerliggaam, Fédération Internationale de l’Automobile (FIA), het aangekondig dat die Grand Prix-wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië nie in April sal plaasvind nie.
Die aankondiging is vroeg Sondagoggend in Shanghai voor die Chinese Grand Prix gemaak. Volgens die organiseerders is die uitstel ’n voorsorgmaatreël om die veiligheid van spanne, bestuurders en ondersteuningspersoneel te verseker.
Beide lande is reeds getref deur Iran se reaksie nadat die VSA en Israel ’n reeks aanvalle op Iran geloods het. Daar heers tans veiligheidsbekommernisse wat verband hou met die konflik.
In ’n verklaring het F1 gesê dat, “vanweë die voortgesette situasie in die Midde-Ooste-streek sal die Bahrein- en Saoedi-Arabië-Grand Prix nie in April plaasvind nie.” Luidens die verklaring is verskeie alternatiewe oorweeg. Daar is egter uiteindelik besluit dat geen vervangingswedrenne in April gehou sal word nie.
Die president van die Fédération Internationale de l’Automobile (FIA), Mohammed Ben Sulayem, het gesê dat FIA altyd die veiligheid en welstand van die gemeenskap en kollegas eerste sal stel. Die besluit is gemaak na, “deeglike oorweging en met daardie verantwoordelikheid in gedagte.”
Die organiseerders van die wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië het gesê hulle ondersteun die besluit.
Met F1 se propvol skedule is daar tans geen oop datums vir herbeplande wedrenne vanjaar nie.
Bron: CNN, BusinessMirror





