FRANKRYK. – Gesondheidsowerhede in Frankryk moedig 29-jariges aan om babas te kry terwyl hulle nog kan. Hulle sê die doel is om te voorkom dat hierdie vroue later met vrugbaarheidsprobleme sit en dink: “As ek maar net geweet het”.
Volgens SkyNews is die oproep aan 29-jariges gedoen omdat vroue op daardie ouderdom hul eiers sonder ’n mediese sertifikaat kan laat vries. Die koste aan die bevriesing van eiers is ook kosteloos vir Franse vroue tussen 29 en 37 jaar oud.
Die strategie vorm deel van ’n 16-punt-plan om die vrugbaarheidsyfer in Frankryk ’n hupstoot te gee – een van vele Westerse lande, insluitend die Verenigde Koninkryk, waar die syfers daal.
Kommer bestaan oor hoe regerings pensioene en gesondheidsorg vir verouderende bevolkings sal befonds, met minder jong werkende mense wat belasting betaal. Maar wêreldwyd het die beleid om vrugbaarheidsyfers te verhoog beperkte sukses behaal, en kritici van die Franse plan meen dat beter behuising en verbeterde kraamvoorsiening moontlik doeltreffender oplossings kan wees.
Bronne: SkyNews, The Independent




