GAUTENG. – Freddie Stapelberg (34) wat vir die twee moorde op Nadine Terblanche (32) en Ruandré Vorster (9) aangekla is, se borg is in die Palm Ridge-landdroshof geweier.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê Stapelberg word verdink dat hy die moorde beplan het en is vir twee klagtes van moord met voorbedagte rade en nog twee klagtes van poging tot moord aangekla.
Terblanche en haar seun is op 27 Novermber 2023 in hulle huis in Alberton doodgekap.
Pardon Danhire (beskuldigde 1) het reeds skuld beken en gesê Stapelberg het hom na bewering gehuur om Terblanche te vermoor sodat hy na haar dood toegang tot haar bates en of geld kan verkry.
In die opponering van die borg is sers. Mmakgabo Itumeleng Moloto se verklaring vir die rekord ingelees wat die sterk saak van die staat teen die beskuldigde stel waarom hy ongeskik is om borg te kry. Riana Williams, die senior staatsadvokaat in die saak, het aan die hof voorgehou die beskuldigde sal met die saak inmeng, omdat die meeste van die staatsgetuies aan hom bekend is. Sy het voorts gewys op die erns van die klagtes teen die beskuldigde en aangevoer hy besef hoe sterk die staat se saak teen hom en dat hy met toegestane borg sal kan vlug of sy verhoor kan ontduik.
Mjonondwane sê die NVG verwelkom die weiering vir borg, aangesien, indien toegestaan, dit die publiek se vertroue in die strafregstelsel sou ondermyn.





