GAUTENG. – Zakhele Bennet Hlongwane (53) van Mamelodi, ‘n provinsiale verkeersbeampte, het glo op 1 April omstreeks 05:00 sy vrou, Tili Desire Ngobeni (33), doodgeskiet. Hy is deur die Mamelodi-landdroshof borg geweier.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê Hlongwane word van moord met voorbedagte rade, die rig van ‘n vuurwapen en huisbraak met die doel om moord te pleeg, beskuldig.
Op die betrokke dag het Hlongwane na bewering na die oorledene se huis gegaan en haar kamerdeur oopgebreek. Ngobeni is verskeie kere in die teenwoordigheid van die paar se 5- en 3-jarige kinders, geskiet. Hlongwane het die vuurwapen op Ngobeni se broer gerig wat uit sy kamer tevoorskyn gekom het toe hy die skote hoor.
Mahanjana sê Hlongwane het hom ongeveer ‘n uur later by die Mamelodi-polisiestasie oorgegee.
Hlongwane het deur sy regsverteenwoordiger vir sy aansoek om borg in die hof aangevoer hy kon na die misdade vlug, maar het verkies om homself aan die polisie te oorhandig en dat hy na sy dogter (15) moes omsien. Hy het verder gevrees dat sy huis gevandaliseer sal word.
Tshilidzi Mugeri, die staatsaanklaer, het borg oppponeer omrede Hlongwane die getuies in die saak ken en dit hulle lewens in gevaar stel. Mugeri het gesê die staat het ‘n plig om die getuies veilig te hou.
“Boonop, het hy gesê, moet die hof die voorkoms van hierdie misdryf in ag neem, aangesien Suid-Afrika ‘n besonder hoë syfer van vrouemoordsake het. Verder het die staat aangevoer die hof moet toesien dat sulke moordenaars nie borgtog kry nie.”
Landdros Mlombo het die staat se saak as sterk beskryf en geen rede as uitsonderlik gesien nie. Die landdros het verder gesê Hlongwane sal na alle waarskynlikheid die verhoor vermy omdat die minimum voorgeskrewe vonnis vir moord met voorbedagte rade lewenslange tronkstraf is.
Borg is geweier en die saak is vir verdere ondersoek tot 18 September uitgestel.





