Mzwanele Nyhontso, die minister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Donderdag die regering se standpunt oor grondonteiening vir doeleindes van grondhervorming verduidelik. Die minister bevestig dat daar sedert die inwerkingtreding van die wet in Januarie geen onteiening van grond op privaat eiendom, insluitend plase, ingestel is nie.
Linda Page, die hoofdirekteur van strategiese kommunikasie vir die departement, sê in ‘n vrygestelde verklaring alle grond wat vir grondhervorming en herverdeling verkry is, is aangekoop deur middel van ‘n regverdige, deursigtige en wettige proses. Die aankoop van grond van vorige eienaars, veral wit eienaars, is gebaseer op onderhandelings en ooreenkomste. Hierdie benadering strook met die beskerming van eiendomsregte en die bevordering van inklusiewe ontwikkeling en verbeterde toegang tot grond.
Volgens die departement is sowat 3,9 miljoen hektaar sedert 1995 verkry, wat slegs 2,5% van die land se totale grondmassa verteenwoordig. Die grond, met ‘n geskatte waarde van R26,6 miljard, is vir verskeie doeleindes gebruik, insluitend landbouproduksie, bosbou, toerisme en gasvryheid.
“Die regering bly verbind tot ’n grondhervormingsproses wat grondwetlik, ekonomies haalbaar en sosiaal verantwoordbaar is,” sê Page.
Minister Nyhontso het ook gewaarsku teen die verspreiding van vals inligting, en gesê dat enige aannames wat teen die regering se grondhervormingsposisie indruis, misleidend is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com