GAUTENG. – Donovan Moodley, wat in Julie 2004 vir Leigh Matthews op 21-jarige ouderdom ontvoer en vermoor het, is in 2005 skuldig bevind. Hy is vir parool oorweeg, maar dit is nie toegestaan nie.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het aan Nuusflits bevestig die nasionale raad vir korrektiewe dienste het ná deeglike ondersoek van al die relevante verslae en voorleggings aanbeveel dat Moodley nie in hierdie stadium parool kry nie. Die raad het gesê hy moet eers verdere behandelings en programme deurloop. Dr. Pieter Groenewald, die minister van korrektiewe dienste, het met die aanbeveling saamgestem.
Moodley se paroolprofiel sal eers ná 24 maande weer aan die paroolraad en daarna aan die minister vir nuwe oorweging voorgelê word. In die tussentyd moet hy verskeie gestruktureerde rehabilitasieprogramme voltooi, psigoterapie bywoon en assesserings deur onafhanklike spesialiste ondergaan. Hierdie assesserings sal help om sy risiko te bepaal en sy vordering met rehabilitasie te meet.
Nxumalo sê parool hang nie net van die voltooiing van programme of die minimum vonnis af nie. Al die beskikbare inligting, insluitend professionele verslae en risiko-evaluerings, word deeglik oorweeg voordat ’n aanbeveling gemaak word. As rehabilitasie dan nog nie voldoende is nie, moet Moodley eers weer verdere programme voltooi voordat sy parool weer in oorweging kan kom.





