Moodley moet agter tralies bly – Leigh Matthews se familie

Lees ook :

Foto's: Iam Cameron en Women For Change

GAUTENG. – Leigh Matthews is gedurende Julie 2004 op 21-jarige ouderdom deur Donovan Moodley ontvoer en vermoor. Moodley is in 2005 skuldig bevind, maar word tan oorweeg vir paroolvrylating. Die Matthews-gesin hou vol dat Moodley agter tralies moet bly.

Ian Cameron sê in ‘n sosialemediaplasing die saak is weer in die kollig nadat die Korrektiewe Toesig-en-paroolraad sy moontlike vrylating aanbeveel het. Moodley het Matthews buite die Bond-universiteit in Sandton ontvoer. Nadat Rob Matthews, haar pa, R50 000 as losprys betaal het, is sy dogter egter nie vrygelaat nie. Moodley het haar na ‘n veld naby Walkerville geneem en verskeie kere geskiet. Haar liggaam is daar gelaat, waarna die polisie hom met behulp van selfoonrekords, die losprys se geld en ballistiese getuienis aan die misdaad verbind het. Moodley het in die hof skuld beken en is vir moord lewenslank, ontvoering 15 jaar en vir afpersing 10 jaar gevonnis.

Moodley het gedurende 2018 vir parool in aanmerking gekom. Die Matthews-gesin het sterk beswaar gemaak teen Moodley se moontlike parool en slagoffer-impakverklarings ingedien. Hulle het ook daarop gewys dat die sielkundige wat aanvanklik Moodley se vrylating aanbeveel het, later deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van SA (GRSA) aan wangedrag skuldig bevind is.

Women For Change het skok en woede uitgespreek oor die Korrektiewe Toesig- en-paroolraad se aanbeveling. Die organisasie sê voorts die aanbeveling vir sy moontlike vrylating, ná slegs 20 jaar agter tralies, wys op die tekort aan geregtigheid vir slagoffers en hul families. Women For Change het hulle steun aan Matthews se ouers, Rob en Sharon, toegesê en beklemtoon dat elke paroolaansoek sedert 2022 hul pyn herhaaldelik verdiep.

“Terwyl Suid-Afrika ’n vrouemoordkrisis trotseer, word selfs die ergste oortreders oorweeg vir vrylating,” het die organisasie gesê. Hulle het herhaal dat geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord as ’n nasionale ramp verklaar moet word, vergesel van streng hervormings. Daar word vir strawwer vonnisse vir oortreders van groepsverkragting, vrouemoord en seksuele misdrywe teen kinders, sonder vroeë parool, gepleit. Hulle het die minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, versoek om die parool-aanbeveling te verwerp.

Bronne: Ian Cameron en Women For Change

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief