OOS-KAAP. – ‘n Staatsvoertuig wat vroeër die maand tydens ‘n gewapende kaping in Qumbu gebuit is, is teruggevind nadat die polisie ‘n 27-jarige verdagte in hegtenis geneem het.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê die dubbelkajuit Isuzu-bakkie, wat aan ‘n staatsdepartement behoort, is op 15 Julie omstreeks 13:00 in die Tina Falls-gebied gekaap. Drie gewapende mans het glo die voertuig gebuit en vyf werknemers van hul selfone beroof. Ná deeglike ondersoekwerk is die verdagte Vrydag in Matyhamini, Qumbu, aangekeer. ‘n Ongelisensieerde rewolwer, die gekaapte staatsvoertuig en die vyf gesteelde selfone is deur die polisie in sy besit teruggevind.
Die verdagte sal vandag op aanklagte van kaping, besit van gesteelde eiendom en die onwettige besit van ‘n vuurwapen in die plaaslike landdroshof verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort om die ander verdagtes op te spoor.






