GAUTENG. – Hayden Forster, leerling van Laerskool Randfontein, se afsterwe het ‘n groot leemte gelaat, maar sy sal steeds deur die skenk van haar organe in ander bly voortleef. Boodskappe van simpatie stroom op die Hayden Forster-gebedsgroepblad in.
“Hayden is n pragtige dogtertjie met veelvuldige aneurismes. Sy het twee brein aneurismes, vyf nieraar-aneurismes, een abdominale aneurisme en een in haar linkerarm wat hulle reggemaak het met arteriële omleiding. Sy het al baie toetse en skanderings ondergaan, maar daar is nog geen diagnose nie. Sy het onlangs een van die aneurismes in haar brein laat stent, hou haar asb. in julle gebede vir volkome genesing,” is hoe Hayden se gesondheid op die blad beskryf is.
Op 5 Oktober het Hayden erge hoofpyn ontwikkel, naar geword, sy was duiselig en haar visie was geaffekteer. Sy is die volgende dag opgeneem en ‘n MRI-skandering het gewys ‘n aneurisme wat in Mei ‘n stent gekry het, het vergroot. Verlede week is daar voorbidding gevra nadat Hayden skielik ‘n toeval gekry het. Sy is by Unitas Netcare-hospitaal in die intensiewesorgeenheid opgeneem.
Op 14 Oktober het Elaine Foster gesê Hayden se dokters het hulle laat weet daar is nie meer intervensie-opsies vir Hayden oor nie, omdat die aneurismes wat sy het, te “ingewikkeld” is. Dit was nie ‘n tyd vir opgee nie en ‘n professor in neurochirurgie is vir ‘n operasie genader. Volgens die plasing sou die operasie op 31 Oktober plaasvind. Drie dae gelede was daar nog planne vir twee stente om geplaas te word, maar die ondenkbare het gebeur.
Elaine het twee dae gelede op sosiale media laat weet: “Hello almal, dokters het nou al die toetse gedoen, daar is niks meer breinaktiwiteit nie, dis net die masjien wat haar aan die lewe hou. Haar klein lyfie is deur soooo baie, ongelukkig kan ons haar nie langer vir onsself hou nie. “
En weer: “Hello almal. Hulle het ons gister so rukkie voor ons die masjiene sou afsit, gevra hoe ons oor orgaanskenking voel. Ek en Jean is self geregistreer as orgaanskenkers en het al vir Hayden in die verlede gevra hoe sy daaroor voel, en sy wou graag ander kinders die kans op lewe gun. Hulle gaan haar so 10:00 instoot teater toe om haar organe te “harvest“. Bid asb. vir ons, die pad het skaars begin en dis reeds te moeilik. Ek plaas maar nie ‘n foto van haar op die ventilator nie, ons wil haar nie so onthou nie.”
‘n Erewag is deur hospitaalpersoneel gevorm terwyl Hayden na die teater gestoot word, waar haar organe vir oorplanting geoes is.
“As julle ons asb. sal toelaat om ‘n stukkie van ons hartseer vandag met julle te deel. Hayden sou vandag ingegaan het vir ‘n operasie om haar lewe te probeer red, maar op die ou einde het sy ingegaan teater toe om ander mense se lewens te red. Sy het vir ons gesê dat sy eendag graag haar organe sou wou skenk, en ons as ouers het net gedoen wat sy graag wou hê. Ons kom elke dag net meer en meer agter hoeveel mense se lewens sy geraak het, en sy doen nog steeds, al is sy alreeds in die Hemel. Baie dankie vir almal se omgee en liefde en bystand, ons waardeer dit baie. Rus sag ons pop, ons harte is in miljoene stukkies geskeur, soos Wyatt sê: “Ons wou jou net nog so ‘n klein rukkie geleen het.””
Laerskool Randfontein het hulle geliefde maat op ‘n gepaste wyse tydens die plant van ‘n kapokboom gegroet. Kinders huil hartverskeurend tydens die seremonie, waarna wit balonne losgelaat is. Daar sal later ‘n plaatjie aangebring word. Kyk die beeldopname hier.
Laerskool Randfontein sê:
Hayden
Jaco Kloppers
Hierdie lewe was van kleins af vir jou anders gewees,
Geen klouter, spring of speel – enige stamp, die grootste vrees
Maar steeds het jy gelewe, voluit jou bes gegee,
Top 10 het jy behaal deur tyd in jou boeke te bestee
Jou maats het jou beskerm en jou opgepas,
Gebid en ingetree as jou plek leeg was in die klas,
Al was jy siek, al was jy seer het jy die goeie moed gehou,
Al wat ons nou oor het, is die mooi herinneringe van jou.
Tot op die bitter einde het jy so hard baklei,
Laerskool Randfontein se harte huil saam met jou gesin, jou geliefdes en almal wat agterbly.
Deur jou jong lewe kan ons soveel lesse leer,
Dat jy onbaatsugtig lewe skenk aan ander en dis waarom ons jou salueer.
Jy’t die goeie stryd gestry, brawe dogtertjie, heldin
Vrae het ons baie, antwoorde maar min.
Maar ons troos ons aan die feit dat jy nou veilig by ons Vader is,
Ons gun jou nou die vrede, ons gun jou nou die rus.
Mag jy weet dat ons altyd sal dink aan jou,
Met ‘n Ereplek in ons gange is waar ons jou sal hou.
Dankie vir jou mooi voorbeeld en dat ons kon saamskryf aan jou storie,
Wees nou daarbo ‘n woelige klein dogtertjie tot jou volle glorie.
Ons sien jou wel eendag weer,
Vir nou groet ons met ‘n traan, groet ons met groot seer.
Ons dra jou gesin met liefde in ons gebede,
Slaap sag Hayden Heldin, Rus in Vrede.
Jayden word deur haar ouers Jean en Elaine, sowel as haar broer oorleef.
Nuusflits betuig simpatie aan Hayden se gesin, uitgebreide familie, asook skoolmaats.