WES-KAAP. – Joha van Dyk (27), bekende jeugverhaalskrywer van die reeks Branderjaer, Vuurvreter en Kanniedood, is Sondagoggend onverwags oorlede nadat sy die vorige dag ongesteld gevoel het. Medelye stroom op sosiale media in na die afsterwe van die jong, begaafde skrywer.
Hoërskool Stellenbosch, waar Van Dyk in 2015 gematrikuleer het, het soos menige ander – haar familie, medeskrywers, skole en vriende – die nuus en hulle hartseer gedeel.
Die oorsaak van Van Dyk se dood is nie bekend nie.
Helene Boekeblad sê: “Joha van Dyk jy het my jou skrywersmamma genoem. Ons het verlede week nog gesels en planne gemaak vir ‘n skrywersbesoek in mid Feb. Ek sal ons knus padgeselsies altyd onthou. Hoe opgewonde jy was toe jy en Johan begin uitgaan het. En die dag toe jy vinnig ‘n klomp boeke in my kar moes teken omdat die verkope ons almal se verwagtinge ver oortref het. Wat ‘n voorreg om saam met jou te kon werk. Jy was ‘n inspirasie vir oud en jonk. Ons sal jou nooit vergeet nie. Jou familie en vriende is in ons gebede. R.I.V.”
Lees Hoërskool Stellenbosch se plasing hier onder:
JOHA VAN DYK
Dit is met ‘n swaar hart waarmee ons die nuus deel dat Joha van Dyk (matriek 2015) vanoggend, 2 Februarie 2025, oorlede is.
Joha was ‘n veelsydige skrywer en uitnemende jong vrou wat alles met deernis en selfvertroue aangepak het.
Sy het ‘n spesiale plek in die harte van almal by Hoërskool Stellenbosch en ons wens haar familie en vriende vrede en liefde toe gedurende hierdie moeilike tydperk.
Joha, baie dankie vir die impak wat jy op die lewens van die mense om jou gehad het. Jou nalatenskap leef voort. Rus sag, liewe Joha.





