
Foto: Karin en Willem Stevenson
GAUTENG. – Delarize Stevenson van Springs sal vir altyd 16 wees. Die geliefde jong “warrior” soos haar familie haar noem, het Sondag gesterf.
Delarize het op 12 Januarie verjaar. Toe sy 14 jaar oud was, het sy in 2022 by die skool geval en aanvanklik is gedink sy het net haar been seergemaak. Sy is later met osteosarkoomkanker gediagnoseer en gedurende Oktober 2023 is haar been geamputeer. Delarize is weer op 29 Junie in die hospitaal opgeneem. Vyf dae gelede het haar ouers gesê hulle weet nie hoeveel tyd sy nog oor het nie.
“We will keep praying for a miracle. Till she takes her last breath.”
Verskeie gebedsgeleenthede was oor die naweek vir Delarize beplan. Op die ou end het ‘n gebedsgeleentheid en gedenkrit Sondagaand plaasgevind.
Delarize word deur haar pa Willem, ma Karin en vier broers oorleef.
Die volgende is haar pa en ma se boodskap op die Delarize Stevenson Osteosarcoma stage 3 – Facebook-blad:
R.I.P OUR WARIOR
DELARIZE YOU WILL BE MISSED FOREVER
you were a true WARIOR, you fought till the end
Our hearts are broken, but we know you are at a better place now without any pain
We miss you so much
We just wanna thank @everyone @followers
You all made this journey easier for us all. with all the support, messages and calls
Delarize knew you all were standing with her
That’s why she couldn’t just give up she had to put up a fight for us all
She will always be remembered as our LITTLE WARIOR
WE will do an update on funeral arrangements once we have finalized everything
We are still trying to accept the loss of our WARIOR
If we don’t reply to messages or answer calls
Please try and understand
#DELARIZE#staypositive#nevergiveup#ANGELWINGS
Karin StevensonWillem Stevenson
Meer onlangs het Nuusflits berig hoe Karlien van Jaarsveld Delarize besoek het en die besonderse beeldmateriaal gedeel.
Nuusflits het voorheen vertel hoe pa Willie sê Delarize het gedurende September 2022 by die skool geval en daar is aanvanklik gedink sy het ‘n beenspier seergemaak. Net niks het haar been beter gemaak nie en sy is dokter toe, waarna sy dringend X-strale moes laat neem. Delarize is met stadium 3 osteosarkoomkanker gediagnoseer. Sy het dapper die behandeling deurgegaan terwyl die swaard van moontlike amputasie tot by haar heup oor hulle koppe gehang het.
Die familie het van Van Ness-rotasieplastie gehoor en het planne gemaak om in Kaapstad uit te kom waar dit reeds voorheen toegepas is.
Delarize se regterbeen is egter op 17 Oktober 2023 geamputeer om die verspreiding van kanker te keer. Vroeg in Desember 2023 moes haar ouers hoor die kanker het na haar longe versprei. Net voor Kersfees verlede jaar het die fyn meisie net meer as 25 kg geweeg. Die kanker het nou ook na haar blaas versprei en Delarize verduur pyn. ‘n Kateter is aangebring om haar te help.
Op 15 Februarie is ‘n plasing op die Delarize Stevenson Osteosarcoma Stage 3 Facebook-blad gemaak om te sê dokters kan nie veel meer vir haar doen nie. Sy gaan egter steeds gereeld vir mediese opvolgondersoeke. Die familie probeer soveel moontlik tyd saam deurbring en herinneringe bou. Hulle wil ook ‘n wenslys (bucket list) maak, maar is bevrees dit sal klink of hulle vir die ergste voorberei. Hulle pak elke dag op sy eie aan.
Om Karlien van Jaarsveld te ontmoet, was ‘n wens van Delarize wat waar geword het.
Indien jy vra waarvoor hulle nog wens, sê ma Karin: “Ek en Delarize is maar gewoond aan die minste. Al bid mense net, is dit vir ons genoeg.”
Delarize is Willie en Karin se tweede oudste kind en die enigste dogter tussen vier seuns. Voor haar siekte was sy ‘n babbelende ekstrovert, maar Karen sê sy is nou baie meer in haarself gekeer. Om besoekers te ontvang, is natuurlik ook ‘n dobbelspel, omdat hulle moet seker maak niemand met enige siekte kom naby Delarize nie.
“As ouers van Delarize waardeer ons alles wat elke persoon doen, al is dit ‘n gebed, ‘n oproep, ‘n inloer om hallo te sê of ‘n donasie. Ons waardeer alles uit die diepte van ons harte.”
Kyk mens na foto’s van ‘n fotosessie wat Delarize gehad het, kan mens die vasberadenheid van ‘n vegter in haar hele fyn postuur en kyk raaksien.
Nuusflits wens vir Willem en Karin en hulle drie seuns sterkte toe.





