KWAZULU-NATAL. – ‘n Meisie (5) wat Maandag alleen in ‘n woonstel in Redcliffe toegesluit was, se histeriese gehuil vir ure het aandag getrek, waarna sy op die tweede vloer uit die woonstel gehaal is. Sy is intussen met familie herenig.
Reaction Unit South Africa sê inwoners van Orchid-rylaan, wat die meisie hoor huil het, het hulp ontbied. Die meisie, wat gewoonlik by haar ma en ouma is, was alleen toegesluit. Reaksiebeamptes kon nie toegang tot die woonstel kry nie. ‘n Deur op ‘n balkon was wel oop. ‘n Beampte het tot bo geklim en die meisie met haar Barbie-pop met behulp van kollegas na die grond geneem. Sy het verduidelik haar ma het ‘n vriend gaan ontmoet en die ouma het haar toegesluit en alleen gelos. Die ouma, wat by ‘n kliniek werk, het ook nie vir werk opgedaag nie, alhoewel sy in die omgewing gesien was.
Die meisie is deur Rusa by hul hoofkwartier versorg, terwyl daar na haar ouers gesoek is.
Met opsporing van die meisie se familie het die ouma verduidelik hulle was by Verulam-landdroshof vir die pa wat in hegtenis geneem is. Die meisie is in die sorg van ‘n oom gelaat, wat haar toegesluit en alleen gelos het.





