NOORDWES. -Lede van die gemeenskap het Donderdag gehelp om sewe verdagtes vas te trek nadat ‘n beweerde sakeroof in ‘n supermark in die Migdol-woonbuurt naby Schweizer-Reneke plaasgevind het.
Kol. Adéle Myburgh sê William Paroon Dube (55), Majara Mafethe (33), Peter Manywiro (38), Kago Moleleki (25), Thapelo Morie (25), William Motlhodi (28) en Orlando Sambo (47) is kort na die beweerde sakeroof vasgetrek en het reeds vir ‘n eerste keer in die hof verskyn. Die saak is vir ‘n formele borgaansoek tot 20 Februarie uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.
Na bewering het die ses manlike verdagtes en een vroulike verdagte, gewapen met vuurwapens en staalpype, die betrokke oggend die supermark binnegegaan. Die twee broers van die supermark is glo oorval en aangerand, waarna die verdagtes met kontant en kruideniersware gevlug het. Boonop is gemeenskapslede deur die verdagtes aangehits om die supermark te plunder.
Die polisie is van die voorval verwittig en die beweerde verdagtes, wat in ‘n Toyota Fortuner en ‘n Ford Bantam-bakkie gevlug het, is saam met boere in die area in die Banboospuit-area tussen Womaransstad en Ottosdal en te Letsopa buite Ottosdal vasgetrek. Sewe verdagtes is in hegtenis geneem.
Die polisie het op kontant, kruideniersware en ‘n vuurwapen beslag gelê.
Sake, wat die vermoedelike besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie behels, van Ottosdal- en Schweizer-Reneke-polisiestasies, word ook by die klagte van sakeroof gevoeg.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris, het die samewerking tussen die gemeenskap en die polisie uitgelig en almal vir die inhegtenisneming van die verdagtes bedank.





