GAUTENG. – Hayden James Morrison is Maandag op 32 weke met ‘n noodkeisersnit in Life Wilgeheuwel-hospitaal in Johannesburg gebore. Harte en beursies het oopgegaan om die baba by te staan.
Mamma Jess (Jessica) Sutherland is opgeneem en alles medies moontlik is gedoen om Hayden se geboorte te keer. Steroïedbehandeling is ook toegepas sodat sy longe behoorlik kan ontwikkel, sou hy te vroeg gebore word. Ten spyte van dié pogings was Sutherland Sondagaand omstreeks 10:30 in kraam en haar en Dylan Morrisson se baba is vir sy eie en sy ma se veiligheid om middernag met ‘n noodkeisersnit gebore.
Die premature babaseun, wat gespesialiseerde behandeling nodig het, moes dadelik NICU toe verskuif word. Die ouerpaar het ‘n mediese versekeringsplan en het gehoor R75 000 van Hayden se hospitaalverblyf is gedek. Dit is sowat twee nagte se verblyf in die hospitaal. Óf hulle word as privaat pasiënte behandel wat dadelik moet betaal, óf Hayden moet staatshospitaal toe.
Om Hayden te vervoer, sal sy gesondheid in gevaar stel en boonop moet plek gekry word in ‘n staatshospitaal met die regte toerusting. Die hospitaal het rondgebel vir geskikte mediese staatshulp, net om te hoor daar is nie plek vir hom nie, of daar is nie toerusting beskikbaar nie. Daar moes vinnig plan gemaak word.
Die ouers probeer met BackaBuddy-hulp ten minste twee weke se tyd in die hospitaal wen sodat Hayden dan reeds van die toerusting om hom te behandel gespeen sal wees, aangesien behandeling moontlik nog tot 11 September kan voortduur.
Met donasies is binne enkele dae reeds meer as R180 000 van die benodigde R580 000 ingesamel. Die ouerpaar sê dankie vir almal wat inspring om te help.
Mamma Jessica ondergaan tans ook behandeling en moes reeds twee bloedoortappings kry.
https://www.backabuddy.co.za/campaign/my-little-boy-hayden

Foto: Jacquita Morrisson
Bronne: Dylan Morrisson, BackaBuddy, Ian Visagie, Lauren Visagie, Jacquita Morrisson