LIMPOPO. – Lede van die gemeenskap het Saterdag ‘n sersant verbonde aan Thohoyandou K9-eenheid langs sy voertuig aan die brand gesteek nadat hy glo Saterdag omstreeks 15:00 sy gewese vrou, wat ‘n sersant aan die Beitbrug-grenspos verbonde was, doodgeskiet het. Hy is aangekeer, aangerand en aan die brand gesteek toe hy na bewering van die misdaadtoneel in Nkuzana probeer vlug het.
‘n Video van die brandende liggaam word op sosiale media versprei. Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring beamptes van die Hlanganani-polisiekantoor is na twee voorvalle van moord ontbied. Luidens die verklaring is die sersant se voertuig ook uitgebrand.
Na bewering was die vroulike slagoffer saam met twee volwassenes en haar sesjarige kind toe haar man, van wie sy sowat sewe maande geskei was, haar genader het. ‘n Argument het na bewering ontstaan, waarna die man die vrou glo met sy dienspistool in haar bolyf geskiet het. Toe hy na sy voertuig probeer hardloop om te vlug, het die gemeenskap, wat die voorval gadegeslaan het, hom agternagesit, waarna hy aan die hand van die gemeenskap dood is. Die polisie se ondersoek duur voort.
Lt.genl. Thembi Hadebe het kennis geneem van die huishoudelike geweldsvoorval waarin die twee sersante gesterf het. Sy het gemeenskapslede versoek om huishoudelike geskille vreedsaam op te los deur professionele hulp te soek eerder as om tot geweld oor te gaan. “Die SAPD het gesondheids- en welsynsprogramme in plek wat gratis aangebied word. Ons doen ’n beroep op SAPD-lede om van hierdie dienste gebruik te maak.”
Polisieondersoeke oor die twee gevalle duur voort.





