GAUTENG. – Altesaam 12 gemeenskapslede is Vrydag in Nana’s Farm in Lenasia gearresteer nadat hulle die reg in eie hande geneem het. Ses mans is van misdaad beskuldig, waarna hulle verbrand is. Vier het gesterf en twee is beseer.
Kol. Mavela Masondo sê na bewering het die gemeenskapslede die ses mans wat van inbraak en diefstal beskuldig is, aangekeer. Die mans is aangerand en gebrand. Vier is op die toneel dood verklaar en twee is in ‘n erstige toestand na ‘n hospitaal geneem.
Die verdagtes sal Dinsdag op aanklagte van moord en poging tot moord in die Lenasia-landdroshof verskyn.
“Om die reg in jou eie hande te neem, is ‘n ernstige kriminele oortreding en sal nie geduld word nie. Gemeenskapslede word aangemoedig om saam met die polisie te werk. Die beste ding wat die gemeenskap kon doen, was om die mense wat hulle vermoed het misdaad gepleeg het vas te trek en aan die polisie oor te gee, sodat die reg sy gang kan gaan. Om mense aan te rand en te vermoor, is die optrede van misdadigers, en arrestasie van hierdie gemeenskapslede behoort ‘n afskrikmiddel te wees,” waarsku lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale kommissaris.





