WES-KAAP. – Te midde van hoop, bloedsweet en trane het die dodetal van die ramp in Victoriastraat in George tot twaalf gestyg.
George-munisipaliteit sê na ‘n voorval met ‘n privaat hommeltuig het Acsa (die Lughawensmaatskappy van SA) die rampperseel as ‘n No-Fly Zone verklaar. Motoriste word ook gevra om die straat te vermy om swaarvoertuie wat bourommel van die toneel wegry spasie te gun.
Daar word steeds na 41 van die 81 persone in die puin gesoek. Die persoon wat oorlede is, was een van die 16 kritiek beseerdes wat reeds uit die puin gehaal is. Van 33 beseerdes is daar nog 13 in die hospitaal
George Herald het eksklusief met ‘n oorlewende wat uit die puin gehaal is, gepraat. Daar is ook Lucas du Preez wat vir families van diegene wat steeds gesoek word die trekklavier bespeel. Die junior stadsraad en ‘n kerkgroep is ook in die omgewing om te sing en te bid.
Alderman JP Smith het met ‘n sosialemediaplasing foto’s (hier onder) gewys hoe daar met ‘n kamera onder die sementblokke ingekyk word. Swaar masjinerie word gebruik om die sementblokke te verwyder.







