WES-KAAP. – Op dag 10 na die ramp in George waartydens ‘n woonstelgebou in Victoriastraat in duie gestort het, is getalle steeds onveranderd.
George-munisipaliteit versoek die media om pasiënte in die hospitaal en wat behandeling ontvang se privaatheid te respekteer.
“Amptelike ondersoeke na die voorval word deur die SAPD, departement van arbeid, departement van infrastruktuur, asook ‘n onafhanklike ingenieursfirma wat deur die Wes-Kaapse regering aangestel is, gedoen. Spekulasie en moontlike oorsake deur nie-amptelike “kundiges” kan die amptelike ondersoek negatief beïnvloed. Die publiek word versoek om hulle daarvan te weerhou om kwaadwillige gerugte en/of fopnuus te versprei.”
Bevestigde getalle wat onveranderd is, is soos volg – van 81 persone op die perseel ten tyde van die tragedie is 62 uit die puin verwyder, waarvan 33 dood verklaar is. Dit sluit 27 mans en ses vroue in. Tans is daar 12 persone in die hospitaal en nog 19 word gesoek. Altesaam 47 slagoffers is tans aan hulle families verbind.
President Cyril Ramaphosa en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het vandag die toneel besoek.
Donasies vir nooddienspersoneel kan by die AGS Soteria-kerk in Victoriastraat 27 afgelewer word. Die families wat deur die ramp geraak is, sal vir ‘n minimum van ses maande ondersteun word. Psigososiale ondersteuning vir alle personeel wat met die ramp verbind word – reddingspersoneel, sowel as nie-reddingsdienste – sal gebied word.





