GEORGE, WES-KAAP. – Op die agtste dag sedert die woonstelgebou in Victoriastraat in duie gestort het, is 33 persone reeds dood verklaar.
Reddingswerkers en rolspelers op die ramptoneel is reeds meer as 190 uur besig om deur die puin na oorlewende persone te soek. Tot dusver is 62 persone van 81 uitgehaal, waarvan 27 mans en ses vroue dood is. Daar is tans 12 persone in die hospitaal en na 19 persone word steeds gesoek. Ses oorledenes is reeds positief uitgeken.
Psigososiale ondersteuningspraktisyns is teenwoordig om alle slagoffers van die ramp in hulle eie taal by te staan.
Familielede wat ‘n geliefde van die ramptoneel vermis, word steeds versoek om met akkurate inligting van die persoon na die George-burgersentrum te gaan. Patologiese dienste en die polisie help om oorledenes te identifiseer deur middel van vingerafdrukke, DNS en foto’s van unieke kenmerke soos tatoes en kledingstukke.
George-munisipaliteit sê ‘n streng dubbele verifikasieprotokol is van kardinale belang vir die handhawing van die integriteit en akkuraatheid van gerapporteerde getalle van die oorledenes, wat noodsaaklik is in nood- en rampreaksie-scenario’s. Hierdie verifikasieproses behels die kruisverwysing van inligting van verskeie betroubare bronne, soos reddingspanne, hospitale en forensiese dienste.






