Gesin beleef trauma tydens huisroof

Lees ook :

Foto: Verskaf soos vingerafdrukke deur SAPD geneem is

GAUTENG. – Louwrens (32), sy vrou Felicia (31) en hul baba Adriaan (1), is Saterdagoggend tydens ‘n traumatiese voorval met vuurwapens in hul huis in ‘n voorstad van Pretoria oorval en van bykans al hul besittings beroof. Louwrens (10) was nie ten tyde van die huisroof by die huis nie. Louwrens sr. het by die booswigte gepleit om te vat wat hulle wil hê en gesê dat hy nie met hulle sou baklei nie.

Volgens Roelien Jordaan, Louwrens se suster, het die voorval die gesin se lewens onherroeplik geraak. Sy vertel booswigte het omstreeks 03:00 toegang tot die woning verkry. Hulle het vermoedelik ‘n stok gebruik om deur ‘n venster, wat nie heeltemal toe was nie, by sleutels uit te kom en sodoende die huis binnegegaan.

Felicia het geluide gehoor en toe sy vir Louwrens wou wakker maak, was dit reeds te laat. Louwrens, wat op sy maag gelê en slaap het, is teen die bed vasgedruk en Felicia se japongordel en skoenveters is gebruik om hom vas te bind. ‘n Kussing is oor sy kop gedruk sodat hy moes stilbly en daar is op hom gesit. Een van die mans was glo aggressief en het heeltyd met “shooting”gedreig. Roelien sê hulle is dankbaar dat dié betrokke verdagte nie ‘n vuurwapen gehad het nie, anders kon dinge dalk soveel erger uitgedraai het. Felicia beskryf die verdagtes as vier mans en ‘n vrou.

Met baba Adriaan in dieselfde kamer wat begin huil het, is Felicia nie vasgebind nie en genadiglik gelos om hom te kalmeer. Die rowers het die huis geplunder en die gesin van onder meer handdoeke, klere, skoene, beddegoed, elektroniese toestelle, al hulle messe en selfs kos uit die yskas beroof. Roelien vertel die booswigte was so voortvarend dat hulle selfs van ‘n verjaardagkoek van Felicia gestaan en eet het en gevriesde vleis gesteel het. Selfs die huis en motorsleutels het in die slag gebly. Die gesin se Chev Aveo is gebruik om met die gesteelde items van die toneel te vlug. Alhoewel Felicia sê die booswigte “gaaf genoeg” was om die hek se slot en sy sleutel agter te laat.

Dit bly ‘n raaisel hoe die aanvallers in die erf gekom het omdat daar nie spasie daarvoor is nie, maar vermoedelik het hulle oor ‘n grensmuur toegang verkry.

Nadat hulle kon hoor hoe die voertuig wegry, het Felicia vir Louwrens losgemaak. Omdat die gesin sonder selfone agtergelaat is en niemand hulle om hulp sou kon hoor roep nie, het Louwrens ‘n klein verwarmer op die buurman se dak gegooi. Die buurman, ‘n oud-polisieman, het hulle te hulp gesnel, waarna hulle met sy selfoon hul familie en polisie kon ontbied. Met Find my Phone is die egpaar se selfone in die omgewing van Stormvoël KFC teen ‘n hoofweg opgetel, wat beteken die aanvallers kon Nelmapius, Eersterust, Mamelodi Johannesburg of selfs Centurion toe gevlug het. Roelien sê Louwrens het onlangs die Live 360-toepassing van sy foon afgehaal, omdat hy nie gedink het hulle dit ooit sou gebruik nie.

Louwrens se pa en Roelien se kêrel, Hendrik, het eers met Louwrens rondgery om te sien of hulle nie die aanvallers en voertuig kon opsooor nie. Hendrik het naderhand Proshield-veiligheidsmaatskappy gekontak en alhoewel die gesin nie tot hulle behoort nie, was daar binne vyf minute orals voertuie wat na die aanvallers op soek was. Drie uur se soektog het egter niks opgelewer nie.

Louwrens, vir wie die voorval eers soos ‘n droom gevoel het, is nou met die werklikheid gekonfronteer oor wat met hulle gebeur het. Hy was deurentyd magteloos en wil nie praat oor wat met hulle gebeur het nie. Roelien beskryf hulle as ‘n normale gesin wat van maand tot maand leef en nou voor die uitdaging is om hulle lewe van voor af te herbou en ook na hul jong kinders om te sien. Sy vra deur skarebefondsing hulp in enige vorm om die gesin met klere, kos en die noodsaaklikste items by te staan.

Kapt. Johan van Dyk, Tshwane-distrik se polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die egpaar is in die vroeë oggendure in hul huis oorval en vasgebind. Die 32-jarige man is vasgebind en die sleutels van die voertuig is geëis. Die vrou kon drie onbekende mans opmerk, van wie twee met vuurwapens bewapen was en een met ’n mes. Daar was ook ’n man en ’n vrou van ‘n ander nasionaliteit by die groep wat nie gewapen voorgekom het nie. Al vyf verdagtes was vermom om hul identiteit te verberg. Die verdagtes het die huis geplunder en items, insluitend ’n televisie, selfone en juweliersware gebuit. Die gesteelde goedere is in die gesin se wit Chevrolet Aveo gelaai voordat die verdagtes van die toneel gevlug het.

Nadat die rowers weg is, kon die polisie ontbied word. Geen skote is tydens die voorval geskiet nie. Forensiese beamptes is na die toneel ontbied om bewyse te versamel. Die ondersoek duur voort.

“Dit maak seer om te dink my sterk ouboet is so verkleineer,” sê Roelien. Sy bedank enigiemand wat die gesin kan ondersteun en vir hulle deur die moeilike tyd bid.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief