KWAZULU-NATAL. – ‘n Gesin van drie, insluitend ‘n sewejarige kind, is ernstig beseer nadat hulle voertuig Woensdagmiddag van die N3-suid tussen Balgowan en Lions River van die pad geswenk en verskeie kere gerol het.
Midlands EMS se gevorderde lewensondersteunende paramedici het hulle saam met die K9-reddingseenheid en verskeie ambulanse na die toneel gehaas. Met aankoms is gevind dat drie insittendes uit die voertuig geslinger is. Een beseerde was in ‘n kritieke toestand en paramedici het gevorderde behandeling en spesiale reddingstoerusting gebruik om die beseerde uit die sloot tot in die pad te kry. Twee ander insittendes, insluitend die kind, is ernstig beseer.
Al die beseerdes is op die toneel behandel en eers gestabiliseer voordat hulle na ‘n vlak 1-traumahospitaal geneem is. Owerhede was op die toneel en die ongeluk word ondersoek.





