POTCHEFSTROOM, NOORDWES. – Die skorsing van die NWU-student, Shaun Christie, is gister gedeeltelik opgehef. Daar is tydens ’n interne gesprek met die NWU se dissiplinêre komitee besluit hy mag weer sy akademiese verpligtinge nakom, maar hy sal by geen openbare geleenthede toegelaat word nie.
AfriForum Jeug het Christie na sy skorsing op 7 Februarie bygestaan. Christie het openlik beswaar gemaak teen inhoud wat tydens ’n inleidingssessie vir die eerstejaars voorgehou is.
Hy het tydens die sessie opgestaan en tot voor die verhoog geloop waar hy beswaar teen genderkwessies wat tydens die sessie bespreek is, gemaak het. Volgens hom word Christen-studente se vryheid van spraak onderdruk. Verskeie eerstejaarsgroepe het daarna opgstaan en die sessie verlaat.
Meer as 100 studente het gister op kampus aan ’n stille protesaksie ter ondersteuning van Christie deelgeneem.
Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug, meen die nuutste verwikkeling is ’n stap in die regte rigting. “Die NWU het met hierdie besluit aanspreeklikheid aanvaar vir hulle aanvanklike besluit om Shaun te skors.”
Dit is nog nie duidelik wat verder in die proses gaan gebeur nie, aangesien daar geen formele dissiplinêre stappe teen Christie geneem is nie.
Bronne: AfriForum Jeug, Facebook





