KWAZULU-NATAL. – Linda Hlongwa (34), ook bekend as Mjinja of Putin, word sedert Julie 2020 gesoek en is Dinsdagnag deur polisiebeamptes van die twee provinsies in Midrand in hegtenis geneem.
Kol. Robert Netshiunda sê Hlongwa, wat op vlug was, het versuim om op aanklagte van onwettige vuurwapenbesit in die hof te verskyn. Hy word ook verdink van die moord op sy vriendin en haar ma in Pinetown verlede maand. Hy het glo ook in Mariannhill geld van taxi’s, snoepwinkels en skoolvervoer afgepers.
Netshiunda sê die polisie bedank die gemeenskap vir hulle hulp wat tot die arrestasie gelei het en vra slagoffers van Hlongwa om sake by die naaste polisiekantoor aan te meld.
Hlogwa sal binnekort na KZN oorgeplaas word.
“Mjinja het homself ’n leeu genoem, maar vandag het die gemeenskap teruggebulder,” het polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiunda, gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com