VRYSTAAT. – ‘n Toyota Hilux-bakkie en duursame items, onder meer kraggereedskap, wat na bewering gesteel is, is gisteroggend tydens ‘n soektog van die polisie en ander rolspelers by verskeie adresse in Sejake Square teruggevind. Vier verdagtes is in hegtenis geneem.
Sers. Mahlomola Kareli sê lede van die Bloemfontein-blitspatrollie het omstreeks 06:00 ‘n wenk oor ‘n vermoedelik gesteelde voertuig ontvang. Die bakkie is verlate en sonder sy vier wiele en radio in Hamilton agter ‘n sakeperseel gevind. Met ‘n ondersoek is bevind die bakkie is saam met kraggereedskap tydens ‘n inbraak by ‘n sakepeperseel gesteel.
Kareli sê vier verdagtes tussen die ouderdom van 21 en 56 jaar is in Sejake Square in hegtenis geneem. Gesteelde eiendom met ‘n geskatte waarde van R500 000, wat wiele, ‘n voertuigradio, sweismasjiene, slypmasjiene, bore en ander eiendom insluit, is teruggevind.
Die Kagisanong-polisiestasie ondersoek sake van die besit van vermoedelike gesteelde eiendom en sameswering om ‘n misdaad te pleeg.





