LIMPOPO. – Polisielede by die Beitbrug-grenspos het Dinsdagoggend ‘n verdagte (36) met ‘n wit Mercedes-Benz in sy besit in hegtenis geneem. Die voertuig is in Julie in Kwa-Thema in Gauteng as gesteel aangemeld.
Kol. Malesela Ledwaba sê die lede het omstreeks 02:00 ‘n stop-en-deursoekingsoperasie gehad. Die Mercedes is langs die Shell Ultra City-vulstasie op die N1-hoofweg, in ‘n noordelike rigting, gestop.
Ledwaba sê die bestuurder is vir sy bestuurderslisensie, identiteitsdokument en bewys van eienaarskap van die voertuig gevra. Die bestuurder, wat boonop onwettig in die land was, kon nie dokumente verskaf nie. Drie verskillende nommerplate van Gauteng-provinsie is boonop in die voertuig gevind.
Die verdagte is op aanklagte van die besit van ‘n vermoedelike gesteelde voertuig en oortreding van die immigrasiewet in hegtenis geneem. Daar is op die voertuig beslag gelê.
Polisie-ondersoeke duur voort.
Die verdagte verskyn vandag in die Musina-landdroshof.





