NOORDWES. – Twee vermoedelik gesteelde voertuie, registrasiedokumente en voertuigonderdele is Vrydag tydens ‘n multidissiplinêre operasie in Tlhabane, buite Rustenburg, by ‘n sogenaamde chop shop teruggevind.
Kol. Adéle Myburgh sê ‘n 22 sitplek-Volkswagen Craft en ‘n Hyundai Atos, voertuigonderdele, nommerplate, voertuigregistrasiedokumente en bande met ‘n geskatte gesamentlike waarde van R1.3 m. is deur die polisie gekonfiskeer.
Volgens die voorlopige ondersoek is die Volkswagen in November 2024 in Makanpastad en die Atos in Junie 2024 in Boksburg as gesteel aangemeld.
Twee gearresteerde verdagtes sal Maandag op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde motorvoertuie in die Bafokeng-landdroshof voorkom.









