MPUMALANGA. – ‘n Lukrake soek- en beslagleggingsoperasie is vanoggend (Dinsdag) by die Hoërskole Bhekiswayo- en Siphumelele in die Hazyview-omgewing (White Hazey- Kring) uitgevoer waartydens onder meer dwelms aangetref is. Die inisiatief is deur die onderwysdepartement, in samewerking met die departement van gemeenskapsveiligheid en skakeling, die departement van korrektiewe dienste en die Masoyi-polisiekantoor, geneem.
Die departement van onderwys in die provinsie sê in ‘n Facebook-plasing dit vorm deel van die Geïntegreerde Skoolveiligheidsprogram, wat daarop gemik is om ’n veilige en geskikte leeromgewing by skole in die provinsie te bevorder. Gevaarlike items soos messe, geslypte skêre, dagga en nyaope is gevind en is op beslag gelê. Die operasie het ook gelei tot die identifisering en inhegtenisneming van individue wat by die verspreiding van onwettige middels aan leerders betrokke is. Kinders by wie die middels gevind is, het met wetstoepassers saamgewerk en aangedui waar die verdagtes gewoon het. Groot hoeveelhede dagga is glo daar gevind.
Die White Hazey-kring ondervind steeds hoë vlakke van misdaad, wat ’n negatiewe uitwerking op onderrig en leer het. Die departement doen ’n beroep op ouers om met hul kinders te praat oor die gevolge van die nakoming van die skool se gedragskode.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





