GAUTENG. – Sifiso Mkhwanazi is deur die hooggeregshof in Johannesburg tot gevaarlike misdadiger verklaar nadat hy aan moord op ses sekswerkers skuldig bevind is. Hy is tot ses keer lewenslange tronkstraf en 170 jaar addisioneel gevonnis.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die vonnis is vir ses aanklagte van verkragting, ses van moord, ses vir regsverydeling, diefstal en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
“Hy is deur die hof as ‘n gevaarlike misdadiger verklaar en daar is aangevoer die gemeenskap moet teen hom beskerm word. Die beskuldigde is beveel om gevangenisstraf vir ‘n onbepaalde tydperk uit te dien, waarna hy na 30 jaar van die opgelegde vonnis moet terugkeer na die hof. Die hof sal dan ondersoek instel om te bepaal of hy steeds ‘n gevaar vir die samelewing is of nie.”
Ses vroue wat as sekswerkers gewerk het, is oor ‘n tydperk doodgemaak en hulle liggame by ‘n werkswinkel versteek.
“Mkhwanazi het aan die hof gesê die misdrywe is gepleeg uit wraak oor ‘n vals verkragtingsklag, wat tot sy opsluiting vir ‘n tydperk van 10 maande gelei het.”
Mkhwanazi erken hy het die vroue met die arm verwurg, die liggame versteek, sy pa se vuurwapen onwettig gevat, geroof met verswarende omstandighede en regsverydeling gepleeg. Verkragting is ontken – hy het gesê omgang met die vroue was met toestemming in ruil vir betaling. Hy het voorts ontken dat die moorde beplan is en het gesê dit het impulsief gebeur, aangesien die vroue meer geld geëis het.
“Die nadoodse ondersoeke het die oorsaak van sterftes van vyf van die liggame aangeteken as verwurging en/of verstikking, terwyl by die sesde liggaam die oorsaak van dood as ‘n skietwond in die kop uitgewys is.”
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Sifiso Mkhwanazi (22) is op ses aanklagte van, verkragting, moord, regsverydeling en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die Johannesburg-hooggeregshof skuldig bevind.
Mkhwanazi is in Oktober 2022 in hegtenis geneem nadat die liggame van ses vroue op ‘n paneelklopperseel in Rosettenville gekry is. Die beskuldigde se pa het op ‘n dag die liggaam van ‘n vrou in ‘n ongebruikte kantoor ontdek, waarna hy die perseeleienaar en die polisie ontbied het.
Tydens die polisie se ondersoek is nog vyf liggame van vroue in verskillende plekke op die perseel gevind.
Mkhwanazi het die vroue, sekswerkers van Johannesburg, tussen April en Oktober 2022 verkrag en vermoor. Die beskuldigde het eers onskuldig gepleit, waarna hy erken het hy het die vroue verwurg, maar hy het verkragting ontken en gesê dit was konsensuele seks vir geld.
Oortuigende bewyse is regdeur die verhoor verskaf. Sers. Bongani Mbonambi, die ondersoekbeampte, het die forensiese analise aangebied en getuieverklarings is aangehoor wat op die beskuldigde se skuld gedui het.
Leswikane Mashabela, die senior staatsadvokaat, het aan die hof voorgehou Mkhwanazi het beplan om die sekswerkers te vermoor en dat daar geen konsensuele seks tussen die beskuldigde en sy slagoffers plaasgevind het nie.
“The NPA reaffirmed its commitment to combating gender-based violence and continues to work tirelessly to create a society where all individuals can live free from fear and harm.”